Tak: Aberdeen
Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Saamroeper: Elna van Niekerk
Beriggewer: Lea van der Vyver
Datum: 29 Januarie 2025
Aberdeen leer meer: Wol – Van Skeer tot Skip
Aberdeen skop 2025 op 29 Januarie af met ‘n Landbou& Tuinbou vergadering. Saamroeper Elna van Niekerk open met ‘n gepaste stukkie vir die jaar. Ons moet self God se Woord lees, bestudeer en bid, sodat ons in tye van storms staande kan bly.
Elna van Niekerk doen ‘n gepaste opening vir die dag.
Spreker van die dag is Tink Strydom, Bestuurder Veselverkryging van OVK in Gqeberha. Hy verduidelik in detail die hele proses wat wol volg – vanaf die skaap wat op die plaas geskeer word, totdat die wol per skip uitgevoer word.
Tink Strydom, Bestuurder Veselverkryging van OVK in Gqeberha, besig met sy aanbieding.
Skeer is ‘n moeilike werk en daar is min nuwe skeerders wat opgelei word. Op plase moet ons as vroue toesien dat skeerders goed behandel word. Wolsortering op die plaas is ‘n belangrike aspek, wat direk die prys wat die wol sal behaal, beïnvloed. Die posisie op die skaap, sowel as ouderdom, bepaal die klas van die wol. Die bale moet styf genoeg gebaal word, maar binne die maksimum gewig toelaatbaar, anders is addisionele hande-arbeid nodig om die baal te verwerk.
Naspeurbaarheid van wol raak ook al hoe meer belangrik in die internasionale mark. Daar word oudits op plase gedoen om te verseker dat die prosesse aan vasgestelde standaarde voldoen. Inligting word op verskillende stadiums in die proses elektronies inskandeer, wat die eindverbruiker in staat stel om die oorsprong en proses van die wol te sien.
Nadat wolbale gelewer is, word dit skandeer vir vreemde voorwerpe wat in die baal mag wees. Objektiewe metings word op wolmonsters gedoen om die gehalte te bepaal. ‘n Hoëdigtheidspers word gebruik om bale nog kleiner te pers vir skeepvragdoeleindes. Die bale word vir 28 dae bo 18gradeC in ‘n verskepingsstoor geberg voor dit verskeep mag word.
Voor die veiling plaasvind, word grypmonsters van die wol op uitstalling gesit vir potensiële kopers om te inspekteer. OVK voorsien ‘n waardasie op al die wol. By die veiling bepaal die kopers die finale prys. Dinge wat prys beïnvloed, is die saadinhoud van wol, die mikron, die variasie in mikron, die variasie van wollengte en of oudits wel op die plaas gedoen is of nie. Die Newtonkiloteks is ook baie belangrik – dit dui aan of daar ‘n breek in die wol is.
Die finale stap is die afrekening en daarna verskeping van die wol. Alle wol in Suid-Afrika word buiteland toe gestuur om verwerk te word.
Elna van Niekerk, Saamroeper Landbou & Tuinbou, bedank Tink Strydom vir sy aanbieding.
Die dag word afgesluit met gesellige samesyn en heerlike eetgoed voorsien deur Suzanne Lategan en Petro Marx.
Groepfoto
Vlnr agter: Christelle Nel, Sari van der Merwe, Tink Strydom, Elsa Featherstone, Karen van Rensburg, Luise de Jager, Lea van der Vyver, Petro Marx, Retha Lategan, Lize de Jager, Marguerite Matthee.
Vlnr voor: Engela James, Elna van Niekerk, Suzanne Lategan, Carina Esterhuizen.
Foto geneem deur Lizemari Jordaan.
Tafelversiering met gebreide wol/ bokhaar kombers deur Petro Marx
Pragtige blomme versier die tafel
Leave A Comment