Tak: Klein-Brakrivier

Sirkel: SWD

Beriggewer: Retha Nagel

Datum van vergadering: 28 Januarie 2025

 

KLEIN-BRAKRIVIER SKOP 2025 KLEURVOL AF

Ten spyte van ‘n vaal grys reëndag, het die Kleinbrakkies die jaar se eerste byeenkoms op Dinsdag, 28 Januarie kleurvol meegemaak. Ons kleurvolle landsvlag met gekleurde ballonne het ons reënboognasie uitgebeeld saam met die bestuurslede wie as gasvrouens opgetree het.

Benewens die bekendstelling van 2025 se Boom en Voël van die Jaar, het lede en besoekers inligting ontvang oor die jaarlikse Inligtingsdag met die oog op kompetisies vir SWD konferensie en VLVK kongres later vanjaar. Die nuwe jaarprogram is propvol inligting oor ons werksaamhede, takkompetisies, uitreikingsgeleenthede na ons bejaardes, projekte en meer…

 

Erkenningsertifikate vir 2024 is ook deur die voorsitter, Franci Raubenheimer en vise-voorsitter, Susanne le Roux aan lede oorhandig. Dit sluit in erkenning vir getroue takbywoning (100%) aan 17 lede; en uitnemendheid aan Engela Buys, wie meer as 200 artikels gedurende die afgelope jaar beoordeel het.

Waarderingsertifikate is aan Meisie Pretorius (kombuisdiens), Ria van Straaten (getroue hantering van verjaarsdag gelukwensinge op ons WhatsApp-groep) toegeken. Belinda Fourie het die Early Bird-toekenning ontvang as die eerste nuwe 2025-lid. Prestasie-erkenning is aan Cecilia Pieterse (meeste inskrywings vir takkompetisies, 22 artikels), asook Dawn Greyling en Retha Nagel (gesamentlik tweede meeste inskrywings, 21 artikels elk) oorhandig. Die toekenning vir die Lid van die Jaar (2024) gaan aan Retha Nagel vir haar uitsonderlike prestasie met publisering van haar gedigte in INK-Spraak 5, lojale lid, kompetisie deelnames (tak, SWD, VLVK), inspirasie, entoesiasme en volgehoue tak-bydraes.

Die volgende lede is vereer met diensknopies:

30 Jaar aan Miens Willers en Engela Buys

 

20 Jaar aan Dawn Greyling

 

5 Jaar aan Christa Vreugdenburg

 

Laaste maar nie die minste nie, is Suzette O’Kelly “bekroon” as die Kulkunstenaar van die Jaar, nadat ‘n bos sleutels (motor/huis) van Dawn spoorloos verdwyn het na ‘n maandbyeenkoms en dit eers sowat ‘n maand of twee later in haar sak gevind was 😁

Ons sien uit daarna om ons lewens en byeenkomste in volkleur vanjaar te vier!