Sirkel: Kalahari
Tak: Kuruman
Portefeulje: In Memoriam
Saamroeper: Karin van der Walt
Beriggewer: Hettie du Plessis-Krüger
Datum van vergadering: 23 Januarie 2025
KURUMAN ONTHOU JOEKS MYBURGH
Joeks Myburgh
VLV Kuruman-tak se oudste lid (92 jaar en 11 maande), Joeks Myburgh, is op Dinsdag 14 Januarie 2025 oorlede. Sy het reeds in 1994 by dié tak aangesluit en met die tak se prysuitdeling op 20 November 2024, het sy, in haar afwesigheid, haar 30 jaar diens kenteken verdien!
Joeks Myburgh met haar laaste verjaarsdag.
Die Februarie VLV-vergaderings was altyd spesiaal met Tannie Joeks wat op Valentynsdag verjaar het en al die lede wat rooi aangetrek het. Sy word ook onthou vir die geskenkies wat sy vir elke lid gemaak het op hul verjaarsdae.
Foto van Joeks Myburgh by die VLV-vergadering op 23 Januarie 2025.
Ansie Cilliers steek kers aan vir Joeks Myburgh.
Met die tak se eerste byeenkoms vir die jaar op Donderdag 23 Januarie 2025, het Ansie Cilliers (Saamroeper: Landbou & Tuinbou) ‘n kersie aangesteek ter nagedagtenis aan Tannie Joeks.
Joeks Myburgh se begrafnisbriefie.
Tannie Joeks is op Saterdag 25 Januarie 2025 in Kuruman begrawe.
Die kis by die begrafnis.
VLV-lede wat die ter aarde bestelling bygewoon het, was Ansie Cilliers (Saamroeper: Landbou & Tuinbou), Elien Menge (Saamroeper: Openbare Sake), Karin van der Walt (Saamroeper: Opvoeding & Kultuur), Magdaleen de Klerk (Beoordelaar: Kunste & Handvlyt) en Hettie Green.
Familie, vriende en VLV-lede tydens die ter aarde bestelling.
Karin van der Walt, saam met Joy se dogter, Judy Hofmeyr.
Elien (Ansie se suster) vertel dat Tannie Joeks (sy was toe nog Scholtz) en Oom Basie en hulle vier kinders by hul ouers in die losieshuis ingetrek het, iewers in die 1960’s. Elien sê: “Dit was vir my en Ansie baie lekker om maats van ons eie ouderdom so naby te kon hê.” Hul oudste dogter Joy (reeds oorlede aan kanker op 44-jarige ouderdom) was so jaar ouer as Elien. Hul enigste seun, Douw, en Elien is ewe oud. Ansie en Marie is ewe oud en dan die jongste, Christa. “So ons kon almal lekker saamspeel.”
Voormalige Voorsitter van dié tak, Petro Spangenberg, vertel dat Tannie Joeks in 1983 die blomme vir Petro se troue gedoen het. Haar bloemiste-winkel se naam was Blomme & Bloeisels. Petro het ook by Tannie Joeks se huis gaan aantrek vir haar troue.
Foto’s wat uitgestal is tydens Joeks Myburgh se 80ste en 90ste verjaarsdae.
Joeks Myburgh het ‘n lang en vol lewe gehad. Sy is op 14 Februarie 1932 in Johannesburg gebore. Sy het haar ouma se name gekry: Judith Jacoba van der Merwe. Hulle het haar Joeks genoem, omdat haar ouboet (toe twee jaar oud) haar so genoem het! Sy het in Johannesburg grootgeword en skoolgegaan. Sy het die Tweede Wêreldorlog van 1 September 1939 tot 2 September 1945 en ‘n konsentrasiekamp oorleef. Sy is deur die Depressie van 1933 tot 1939.
Na skool het sy by ‘n klerefabriek in Springs gewerk. Dit is dalk waar haar groot liefde vir naaldwerk en handwerk vandaan kom. Sy het vir Willem Jacobus (Basie) Scholtz ontmoet en is in Mei 1949 met hom getroud. Daar is vyf kinders uit die huwelik gebore. Die eerste een, Japie, is ongelukkig op drie maande oorlede. Daarna volg Joy, Douw, Marie en Christa. Sy het die republiekwording in 1961 beleef. Tannie Joeks en Oom Basie is in 1981 geskei. Op 15 Desember 1983 trou sy met Gert Myburgh. Hy is op 26 November 1990 oorlede.
In haar lewe het Tannie Joeks gewerk as ‘n huisvrou, plaasvrou en besigheidsvrou. Sy het die kantoor van Oom Basie se ingenieurswerke behartig. Sy het ‘n losieshuis gehad, ‘n naaldwerk (materiaal)-winkel, twee kafees en ‘n restaurant, ‘n skoenwinkel en ‘n bloemiste-winkel waar sy self die rangskikkings gedoen het.
Haar kleindogter, Chantel, het in 1991 by haar in Kuruman kom woon. Sy was hier met die nuwe demokratiese regering in 1994. In 1995 en 1996 het Maryke by haar gewoon en op Kathu studeer. Tannie Joeks het die nuwe millennium in 2000 beleef en die Covid-pandemie in 2020 oorleef.
Sy het eers in 2021 haar huis in Kuruman opgepak en by haar dogter Christa in Kempton Park gewoon. Met haar laaste vergadering, het sy puntverfkuns (dot paint art) kom demonstreer. Dit was lank voordat dit in 2023 ‘n handvlyt-kompetisie artikel sou wees vir VLVK! Sy was daarna nog steeds ‘n lid van VLV Kuruman-tak en het handwerk items as geskenkies gestuur en pakkies jellie aangekoop vir die Mimosahof basaar.
Sy het haarself besig gehou en het altyd gesê: “Mens moet werk en besig bly om ‘n lang lewe te hê.”
Leave A Comment