Sirkel: Paarl
Tak: Strand
Portefeulje: Potpourri
Saamroeper: Mariaan Herbert
Beriggewer: Erna de Waal
Datum van vergadering: 21 Januarie 2025
GOEIEMÔRE! U IS INGESKAKEL BY RADIO VLV STRAND.
“Goeiemôre. Dit is Dinsdagoggend, 21 Januarie 2025 half 10. U is ingeskakel op RADIO VLV STRAND. Ek is Mariaan Herbert en ons saai vanoggend uit vanaf die saal van die NG Moederkerk Strand waar die VLV tak hulle jaar afskop met `n heerlike, kleurvolle Mengelmoes Kardoes program. Saam met my in die ateljee is die Bestuur van die tak. Welkom aan al die lede, besoekers en al ons luisteraars.”
Só het Strand Tak met hul eerste byeenkoms van 2025 uit die blokke gespring. Emsie Marx open die verrigtinge op gepaste manier en wens elke lid en luisteraar ‘n kleurvolle, geseënde en voorspoedige 2025 toe en spreek die wens uit dat ons mekaar sal toelaat om ons kreatiwiteit en unieke menswees hier te kan uitleef.
Die Bestuurslede kry elkeen geleentheid om hul visies vir die komende jaar m.b.t. hul portefeuljes uit te stippel. Audrey du Toit, Vise-Voorsitter en Sekretaresse se visie vir die tak hierdie jaar is dat die ledetal sal uitbrei, meer lede aan die kompetisies sal deelneem, uitstappies onderneem sal word en dat iemand haar weg sal oopsien om die Landbou portefeulje, wat nog sonder ‘n herder is, te hanteer.
Adriana Smit, (Gesondheid), wens elke lid en luisteraar ‘n gesonde jaar toe. Sy vra ondersteuning vir die Marktafel en Woel-en-Werskaf tafel. Die geld wat hier ingesamel word, versterk die takfonds. Marinda Pienaar, (Opvoeding en Kultuur), herinner dat Afrikaans hierdie jaar 100 jaar oud is en dat daar tans duisende mense in die wêreld is wat Afrikaans kan praat. Sy benadruk dat mense met dieselfde kultuur die volgende eienskappe deel: godsdiens, rituele, monumente, kleredrag en grappe vertel. Die Voortrekkers, kerke en skole bied ‘n verskeidenheid van kulturele aktiwiteite aan. Kultuur bind mense saam en skep ‘n gevoel van “behoort”.
Aletta Esterhuyse, (Tesourier asook Kunste en Handvlyt), verduidelik hoe die tak se finansies daar uitsien. Om die tak se boot op die water te hou, is goeie finansiële bestuur noodsaaklik. Sy lê klem op gereelde deelname aan kompetisies in die onderskeie dissiplines van Kunste. en Handvlyt. Opwindende kompetisies wag op ons in 2025.
Emsie Marx, wat op die Leefstyl stoel sit, vra dat lede elke maand produkte skenk vir die Bejaardes Maak Saak projek. Dit word aan die einde van die jaar aan die bejaardes geskenk. Sy pleit ook vir meer deelname aan maandelikse kompetisies wat groot pret is.
Adriana Smit het aan elkeen wat in Januarie en Februarie verjaar, ‘n gesonde jaar toegewens en verras met ‘n boksie kleurvolle Smarties aangesien die tema vir die jaar Leef in Volkleur (Kleur jou lewe) is.
Die uitvoerende kunste word nooit agterweë gelaat nie. Twee begaafde kunstenaars, Elma Salt (viool) en Roelien Conradie (harp) het die dag ingekleur met musiek uit die boonste rakke waarvoor hulle luide applous ontvang het.
“So kom ons aan die einde van ons uitsending. Ek hoop julle het die program geniet. Dis Mariaan Herbert en haar span wat Tot Siens sê tot volgende keer.”
Die uitsaaispan van Radio VLV Strand. V.l.n.r. Emsie Marx (Leefstyl), Mariaan Herbert (Voorsitter), Marinda Pienaar (Opvoeding en Kultuur), Audrey du Toit (Vise-Voorsitter), Adriana Smith (Gesondheid) en Aletta Esterhuyse (Tesourier en Kunste en Handvlyt).
Emsie Marx (Leefstyl) open die verrigtinge op gepaste wyse.
Audrey du Toit (Vise-Voorsitter en Sekretaresse) stippel haar visie vir 2025 uit. Dit sluit in uitbreiding van die ledetal, uitstappies en groter deelname aan kompetisies.
Audrey du Toit by haar voorbeeld van ‘n Vinette.
Erna de Waal (Beriggewer) in vrolike luim saam met die kunstenaars Elma Salt wat die viool gespeel het en Roelien Conradie by haar harp.
Leave A Comment