Sirkel: SWD
Tak: Sedgefield
Portefeulje: Landbou en Tuinbou & Opvoeding en Kultuur
Saamroeper: Miemie De Lange
Beriggewer: Carin Van Niekerk
Datum van vergadering: 15 Januarie 2025
Ereveldwagter leer Sedgefiled VLV meer van die boom en voël van die jaar
Die Sedgefield VLV-tak se eerste vergadering op Woensdag 15 Januarie was hoofsaaklik ‘n inligtingsvergadering waar Lynne McEwan, ereveldwagter van SANParke se Wildernis distrik die dames kom toespreek het oor SA se bome en voël van die jaar. Die algemene boom van die jaar is die witmelkhout wat in 1977 as ‘n beskermde boom verklaar is en die skaars boom is die tambotie.
Die witmelkhout is ‘n struik of ‘n boom wat voorkom vanaf die Kaapse Skiereiland al langs die kuslyn tot by Mosambiek. Hierdie inheemse boom groei ook in dele van Limpopo en Mpumalanga Dit kom buitelands o.a. in Kenia, Somalië, Tanzanië en Zimbabwe voor.
Dit is ‘n blaarryke, immergroen boom en vorm as’t ware ‘n groot, groen kroon. Die bome kan baie oud word en dan verkleur die ouer blare na rooi. Die blare is donkergroen aan die bokant en ‘n ligter groen aan die onderkant. Die middellyn van die blaar is bo en onder baie prominent. Die blare krul effens om. Die wit vloeistof van die blaar is ‘n bestanddeel van kougom. Die wit blomme is taai en ruik nie baie lekker nie. Blomtyd is vanaf November tot April. Die vrugte aan die boom is vlesig en persswart. Dit is eetbaar, maar nie baie smaaklik nie. Voëls en vlermuise hou egter baie van die vrugte.
Daar is drie bome wat as Nasionale monumente verklaar is: Die Poskantoorboom in Mosselbaai, die Fingoboom in Peddie en die Verdragsboom in Woodstock.
Die rooibekrenostervoël se habitat is savannas, graslande en oop woudlande. Weens klimaatsverandering is daar klein groepies in die Karoo naby Beaufort-Wes opgemerk. Hulle kan ook in lande soos Botswana, Malawi, Zimbabwe, Somalië en Sudan gevind word.
Hulle word veral by wild en vee gesien waar hulle amper passassiers is en saamry waarheen die dier ookal beweeg. Hulle klou aan enige plek van die dier vas, selfs aan die lippe en neus. Hulle sit of hang dikwels ‘n klomp saam op een dier. Hulle dien as waarskuwing van gevaar vir hulle gashere. Hierdie kommunikasie kan dalk bydra om renosters teen stropers te beveilig. Hulle vreet die bosluise op die diere en hou so die diere gesond. Hulle snawels is plat en skerp en haal die bosluise af soos ‘n skêr wat knip. In ‘n stadium het die dippe wat op diere gebruik is, veroorsaak dat die voëls se bevolkingsgetalle verminder het, maar danksy voëlvriendelike alternatiewe vir dippe om bosluise en ander ektoparasiete te beheer vanaf die sewentigerjare, is die bedreigingstatus van hierdie voëls tans laag.
Hulle is omtrent so groot soos ‘n rooivlerkspreeu met ‘n oranje snawel, rooi oë en‘n geel ring rondom die oë. Hulle het kort pote, geboë tone en ‘n stywe stert wat hulle stut. Hulle maak nes in mikke van bome en gebruik hare van hulle gasheerdier of gras in die dieremis om die nesse te bou. Hulle lê twee tot vyf eiers op ‘n slag. Aangesien hulle baie sosiale diere is, kyk vyf tot ses voëls op ‘n slag na die kuikens.
Leave A Comment