Tak: Klein-Brakrivier
Sirkel: SWD
Datum: Desember 2024
Beriggewer: Lydie Terblanche
Ivy bring vreugde
2025 se projek is ‘Bejaardes maak saak’, maar Klein-Brak onder leiding van voorsitter, Franci Raubenheimer, is reeds ‘n geruime tyd by die Groenkloof aftreeoord(e) in die omgewing betrokke.
Van die geleenthede is besoeke aan Groenkloof self, kuier-uitstappies met tee en koek en die mees onlangse uitstappie was ‘n baie gewilde besoek met ‘n baie groot groep aan die Birds of Prey Centre by die Garden Route Botaniese Tuine.
Die besoek aan Groenkloof is om die bejaardes met hulle aktiwiteite-oggend by te staan. Franci se pa, oom Louis met klein Ivy altyd vooruit, doen ook daagliks die rondtes by Groenkloof se Siekeboeg. Vriendelike viervoet Ivy is altyd gereed om liefde in oorvloed uit te deel, sy is baie gewild onder almal. Hy kombineer soms sy besoeke met die tak-besoeke, sodat die bejaardes nie oormoeg word nie.
Die tak het ook saam met ‘n groot groep bejaardes van Groenkloof ‘n baie gesellige oggend by Droombos restaurant meegemaak. Die ouer garde wat hulp nodig gehad het is vanaf die parkeerarea begelei en almal kon rustig onder die bome en in die restaurant iets te eet en te drink geniet.
Dit is vir hierdie tak ‘n groot voorreg om saam met Groenkloof se bejaardes en Ivy te kuier en dalk iemand se dag vir ‘n oomblik op te vrolik.
Dan het die tak ook aan Lemador Basson, onderwyseres by ‘n plaasskool – Van der Hoven Laerskool – buite Groot-Brak, skoene oorhandig. Een van die taklede, Gerda Siebert loop al ‘n lang pad met dié skool. Gerda maak graag haar hart en hand oop, en die skool druk gereeld op haar knoppie. Vir hierdie skenking het Tesourier Lynette Nel ook ‘n groot aandeel gehad. Sy het by Jawitz Eiendomme (in Hartenbos), ‘n borgskap vir die skoene georganiseer. Vise-voorsitter Susanne le Roux was aan die stuur en taklid Elrina het ook ‘n welkome hand bygesit. Almal moes omtrent bontstaan want die opgewonde kleingoed wou stories voorlees en drukkies uitdeel.
Daar is 110 kinders in die skool en Klein-Brakrivier beplan om volgende jaar terug te gaan met nóg skoene en ander artikels op hulle wenslysie.
Saam met Ivy, blaf ons tak vir seker om n verskil te maak in ons gemeenskap. Blaffie Groete🐶