Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Saamroeper: Bestuurspan
Beriggewer: Letty-Ann Möller

Datum: 5 Desember 2024

Bredasdorptak Oorhandig Oscars by Gastehuis

Kombineer ‘n splinternuwe gastehuis, ‘n kuiergas van VLVK Hoofbestuur, twee sirkelpresidente van die Overberg en van Ceres onderskeidelik, een gasspreker, een unieke silwer trofee, vyf Oscars en een –en dertig taklede van VLV Bredasdorptak en kry ‘n unieke Kersafsluiting van VLV Bredasdorptak op Napier op Dinsdagmiddag, 5 Desember 2024.

Napier se hoofstraat sou nie weet wat hom getref het as drie-en dertig motors twee uur die middag skarrel vir parkeerplek voor die Sir Napier Boutique Guesthouse nie; vandaar die georkestreerde saamryery. Klokslag 2 uur het die laaste lid op die voorstoep verskyn. Elke gas het ‘n geskenkie in die groot druiwemandjie by die voordeur gesit. Die geskenk moes minder as R50 kos en ooreenstem met die eerste letter van jou naam. Teen daardie tyd het die paparazzi reeds ‘n aantal foto’s geneem; die verslaggewer reeds ‘n paar notas geneem en die kuiergaste reeds ‘n paar rand in die gastehuis se vintage winkeltjie uitgegee.

Robert Hayes, die gasheer, het lede in twee groepe verdeel, ‘n paar fokuspunte in die vertrekke uitgewys en het met groot entoesiasme sy gastehuis gewys.  Hy het die eerste groep na die boonste terras geneem waar hulle onder ‘n groot sambreel gaan sit het, sap en water geniet het en deur die tydskrifte op elke stoel kon blaai. Teen die tyd wat die tweede groep die ‘tour de la maison’ (huistoer) meegemaak het is hulle saam met Robert terras toe.

Ora Laubscher het die gasspreker voorgestel en die historiese agtergrond van verversingsposte op Napier gedeel. Robert het sy huiswerk goed gedoen. Hy het die 7 beginsels van Binnenshuisversiering uitgespel en na die fokuspunte in sy gastehuis verwys. Woorde soos “balans” en “harmonie” het telkens opgeduik. Hy het sy ma vereer vir haar (en sy eie) goeie smaak. Tish Rabie het Robert bedank en ‘n fles Overbergse heuning aan hom oorhandig.

Na die pikante eetgoed en Belgiese koffie het die dames weer hulle sitplekke ingeneem…vir die verrassing!

Die voorsitter het die eregaste, Vicki Ferreira, VLVK bestuurslid vir Kuns en Opvoeding en sirkelpresident van Ceres en Elbé Fourie, sirkelpresident van Overberg genooi om die Oscars te oorhandig. Letty-Ann, takvoorsitter Bredasdorp, het ‘n humoristiese toespraak namens die vyf ontvangers gedoen.  Sy het elkeen se mentor plegtig bedank en het beklemtoon dat die lewe nie regverdig is nie en dat “elkeen wat vandag hier is” kwalifiseer vir ‘n Oscar. Om seker te maak daar word nie onderskeid getref nie is die Oscars met die gelukkige trekkings bepaal. En die wenners was… (Sien foto’s).

Die laaste trofee wat oorhandig is, het na Elsette Strachan gegaan, (Elsette was oorsee tydens die tak se September oorhandigings).

Maar daar het nog ‘n verrassing op die lede gewag.  Hulle kon op eie stoom deur die selfhelp eenheid op die boonste terras beweeg voordat hulle met ‘n geskenk uit die druiwemandjie huis toe is.

Is die Oscars wisseltrofees? Nee. Dis die eiendom van elke ontvanger!

Elegante eenvoud

Gaste daag 2 uur op by Sir Napier Boutique Guesthouse

Joanie Pretorius neem notas vir Twee Oseane terwyl Robert Hayes praat

V.l.n.r. Letty-Ann Möller, takvoorsitter Bredasdorp, Marie Spamer, langste taklidmaatskap en Elbé Fourie, sirkelsaamroeper van die Overberg.

Vicki Ferreira, Hoofbestuurslid, Vroue-Landbouvereniging Kaapland, en ook Sirkelpresident van Ceres kuier by die Bredasdorptak waar Elbé Fourie, Sirkelpresident van Overberg die Oscars oorhandig.

Vicki Ferreira met die pikante eetgoed en die Belgiese koffie wat op die terras bedien is.

Bredasdorp taklede op die terras met die geskenke in die voorgrond.

Die ontvangers van die Oscars! V.l.n.r staan Juanine Strauss, Diana Odendaal, Marietjie le Roux, Barbara Mandy dan die twee eregaste en Elsette Strachan langs die takvoorsitter.

Letty-Ann Möller, Bredasdorp takvoorsitter, oorhandig die trofee vir die lid wat die afgelope jaar die meeste toegevoegde waarde tot die Bredasdorptak gevoeg het, Elsette Strachan (regs op foto).