Tak: Klein-Brakrivier

Sirkel: SWD

Datum: November 2024

Webwerf beriggewer, Lydie Terblanche

Tak beriggewer, Retha Nagel

 

 

LEEF, LEER, GROEI, DEEL – ALTYD VOLSTOOM

Annelise de Jager

‘n Groepie van ons taklede het na ‘n baie interessante en inspirerende praatjie gelei deur Annelise de Jager gaan luister. Sy is ‘n gekwalifiseerde Neuro-afrigter en fokus op emosionele intelligensie en persoonlike ontwikkeling van persone. Haar tema was hoe leef mens ‘n lewe wat steeds impak het na aftrede.

Ons moet dit aanvaar dat ons ouer word en dat dit ‘n proses is wat ons almal raak. Derhalwe moet jy vrede maak met verlede, vrede maak met waar jy nou is en vrede maak met die (onbekende) toekoms. Jy is ook nooit te oud om ‘n impak te maak op die wêreld nie, deurdat jy jou vaardighede en kennis deel met ander; ‘n impak te maak op die mense wat naby jou is, deur vriendelik, hulpvaardig en bemoedigend op te tree; ‘n impak te maak op jouself, deur dinge te doen en te beleef wat vir jou lekker is en goed laat voel.

Voeg dus waarde toe met dit wat jy het. Fokus veral op jou verhouding met jouself. Hoe praat jy van en met jouself? Glo jy in jouself soos God jou sien? Fokus op positiwiteit en raak bewus daarvan in jou gedagtes en gesprekke. Herwin so jou selfvertroue en hou op om te sê dat jy nie goed genoeg is nie.

Vra jouself die volgende af:

  • Wat wil ek nog hê/doen?
  • Wat wil ek nog gee (van myself)?
  • Wat wil ek nog wees?

Wees daarom vandag teenwoordig in jou eie lewe, want “Life is a Journey” en daarom moet jy dit juis nou ten volle geniet. Gaan kyk na jou kop – vernuwe jou gedagtes elke dag met interessant en insiggewende leesstof, beoefening van stokperdjies en dies meer sodat jou brein deurentyd gestimuleer word en oud word jou nie onderkry nie.

Op foto v.l.n.r. (agter) : Retha Nagel, Leola Esterhuizen en Murna Lotriet. (Voor): Dawn Greyling, Susanne le Roux en Gerda Aspeling. Chrisine Marais en Gerda Siebritz het ook die oggend meegemaak, maar was ongelukkig reeds weg met die neem van die foto.

 

 

 

Powerkids Kleuterskool

Na afloop van die oggend se verrigtinge saam met Annelise de Jager, het Leola Esterhuizen (Sameroeper Opvoeding & Kultuur), Susanne le Roux (Vise-voorsitter) en Retha Nagel (Sameroeper Kuns & Handvlyt) die naby geleë Powerkids Kleuterskool gaan besoek.

Ons is vriendelik deur die personeel en veral die kleinmensies ontvang. Die kleuterskool bedien sowat 22 kinders uit die Powertown informele gemeenskap. Hier word die kleingoed (3-6/7 jaar) skoolgereed gemaak. Die plaaslike NG gemeente Reebok doen uitreikings op ‘n gereelde basis in die vorm van skenkings van klere en kos, asook op geestelike vlak.

Die kleingoed het hartlik saamgesing en gedans op die liedjie “Die Here het my (lyfie) mooi gemaak” en vir tannie Leola en Retha nader getrek om mee te maak, terwyl tannie Susanne die foto’s geneem het.

En so skakel ons in by ons gemeenskappe om waarde te kan toevoeg tot hul wel en weë.

 

Hoe maak mens eco-bricks? Almal leer hoe om hierdie skadelike plastiek uit die omgewing te verwyder en iets te bou daaruit…

 

Oggendtee saam met groep bejaardes van Groenkloof oorde

Franci Raubenheimer (Voorsitter). Susanne le Roux (Vise-voorsitter), Eva Bouw (Sekretaris) en Retha Nagel (Sameroeper Kuns & Handvlyt) het ‘n eerste uitreiking op Donderdag, 24 Oktober gedoen as deel van VLVK se projek 2025: Bejaardes maak saak. Ons het saam met ‘n groot groep bejaardes (45 in totaal) van die Groenkloof oorde, ‘n baie gesellige oggend by Droombos restaurant meegemaak.

Daar is onder meer hulp aangebied om die bejaardes van en die parkeerarea te begelei. Die ouer garde het oor ‘n koffietjies/tee/sap met ‘n eet dingetjie daarby, gesellig onder die bome en binne die restaurant verkeer. Daar is aangebied om van hulle te help met hul selfone, want die nuwe tegnologie is soms nie so maklik om te gebruik of te verstaan nie. ‘n Paar van die dames het ook aangedui dat hulle by ons VLV-tak wil aansluit omrede hul vroeër jare lede was of selfs net om bietjie uit te kom uit die oord en nuwe mense wil ontmoet, maar het dit ook duidelik gestel dat hulle nie meer wil “werk” nie. Ons sal hulle met ope arms verwelkom! Die oudste tussen die groep het onlangs haar 101e verjaardag gevier en is nog heel gesond en helder van verstand. Dit was en is ‘n voorreg om na ons bejaardes te kan omsien en sommer net te bederf. [Foto’s geneem deur Franci en Retha waar die bejaardes heerlik gekuier het].

 

Taklede geniet Tuindag en deel hulle hulle tuin-foto’s met die groep.

 

 

Taklede Cecilia en Hester (en Andries) plat spekbome by saal waar byeenkomste plaasvind.

 

Klein-Brakrivier sluit ‘n produktiewe 2024 in styl af met ‘n gourmet ete by Apprentice

 

Héérlike kuier-oggend saam met Lucia (Gesondheid-saamroeper), en haar span. Die program sluit die voordele van selderysap in. Natuurlik altyd met mooi tafels en lekker eetgoedjies, hierdie keer individuele bakkies pastaslaai en nagereg.

 

Taklede sluit by plaaslike Tuinbouklub aan om meer te leer van inheemse tuine.