Tak: Aberdeen
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Lea van der Vyver
Datum: 13 November 2024
Bejaardes maak saak: Aberdeen VLV Kuier by Aalwynhof
Die inwoners van Aalwynhof, die plaaslike ouetehuis, nooi hierdie jaar weer die VLV dames vir ‘n oggend van saamkuier.
Ons word vriendelik by die deur verwelkom en Padgie Pienaar steek vir elke dame ‘n pragtige papierroos, wat sy self gemaak het, aan. Elke inwoner wat die tee bywoon, ontvang ook ‘n roos.
Padgie Pienaar (regs) by Corrie van Rensburg nadat haar handgemaakte papierrosie aangesteek is
Inwoner André Viljoen heet die dames hartlik welkom en bedank ons vir VLV se betrokkenheid gedurende die jaar. Diane Nel, Voorsitter van Aalwynhof, vertel meer van die stalletjies waar inwoners se handwerk gekoop kan word. Inwoner Padgie Pienaar bedank die VLV, Aalwynhof Beheerraad en personeel. Sy vergelyk VLV vroue met die Spreuke 31 vrou.
Lea van der Vyver, VLV Voorsitter, bedank almal teenwoordig vir die heerlike kuieroggend waarmee ons bederf is. Sy lees die priesterlike seën in Numeri 6 oor Aalwynhof uit. Inwoners word ook bemoedig met ‘n vers wat sê dat Jesus die lig vir die wêreld is en dat Hy lewe gee – hier op aarde, maar ook in die Ewige Lewe.
Daar word heerlik gekuier en gesels met tee en koek. VLV lid Carina Esterhuizen het ook vir elke inwoner ‘n kolwyntjie gebring as ekstra bederf. Die dag is ook spesiaal omdat VLV erelid, Jean Watermeyer, wat eersdag 93 word, ook die dag kon bywoon,
VLV lid Carina Esterhuizen by haar pa, Rensie Janse van Rensburg, wat ook ‘n inwoner is
VLV Voorsitter Lea van der Vyver by erelid van Aberdeen Tak, Jean Watermeyer
Aalwynhof Voorsitter Diane Nel (links agter) by inwoners Truida Maarman (agter regs) en André Viljoen (links voor). Regs voor is diaken Christa van Rensburg, wat baie betrokke is by Aalwynhof se inwoners.
Die kuier word afgesluit met VLV dames wat die inwoners se handwerk, blomme en skilderkuns bewonder en koop.
Van die inwoners se handgemaakte artikels wat te koop aangebied is
Leave A Comment