Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Beriggewer: Hannetjie Cordier
Datum: 29 Oktober 2024
VOËLVLEI-TAK SLUIT DIE JAAR VROLIK AF
Op ‘n reënerige oggend het die lede van die Voëlvlei-tak die jaar met ‘n heerlike kuier by die pragtige Bon Game Privaat Wildreservaat op die oewer van die Gouritsrivier afgesluit.
Elize Locke, uittredende voorsitter, het die lede verwelkom en ‘n paar nuwe reëlings vir die komende jaar uiteengesit. Daarna het sy ‘n kers aangesteek ter herinnering aan twee lede, Frieda Menderoi en Marie van Rensburg, wat gedurende die jaar oorlede is.
Met die welkome reën wat hard op die dak druis, het Elize die uittredende bestuurslede bedank vir hulle harde werk en die insette wat hulle gelewer het, waarna sy die nuwe bestuurslede voorgestel het.
Om die lede wat elke takvergadering gedurende die jaar bygewoon het vir hulle lojaliteit te bedank, is die gebruiklike teelepels oorhandig. Sommige lede het deur die jare al ‘n goeie versameling lepels opgebou! Pryse is ook uitgedeel vir die lede wat die meeste aan kompetisies deelgeneem het en die beste presteer het.
Die afsluitingsbyeenkoms het sommer vir die lede ook ‘n geleentheid gegee om mekaar beter te leer ken. By die deur moes elke lid ‘n nommer uit ‘n houer trek, wat aangedui het by watter een van die feestelik gedekte tafels sy moes sit. Sodoende het mense wat mekaar dalk nog nie goed ken nie, die geleentheid gekry om lekker te gesels en nuwe vriendskappe te begin bou. Tydens die ysbreker-aktiwiteit het die restaurant soos ‘n byenes geklink toe die dames rondbeweeg het om inligting soos, onder andere, wie se nooiensvan Van der Merwe was, wie een van vyf kinders is en wie al in ‘n orkes gespeel het, by mekaar te versamel.
Chef Jonathan en sy span van die restaurant het ons bederf met lip-lek-lekker tuisgebakte pasteie, tjips en ‘n keurige slaai. Die nagereg was heerlike crème brûlée.
Almal het die oggend terdeë geniet en sien reeds uit na volgende jaar.
Nuwe Voëlvlei Bestuur
Agter: Sandra Nolte (Leefstyl), Andrieshia Radyn (Voorsitter), Elize Locke (Landbou en Tuinbou), Chrisilda van Rensburg (Tesourier) en Anna-Marie van der Merwe (Sekretaresse)
Voor: Carina Holtzhausen (Gesondheid), Elmarie Neethling (Openbare Sake), Ronel Laubscher (Opvoeding en Kultuur) en Louisa Smit (Vise Voorsitter en Kunste en Handvlyt)
Voëlvlei dames “hardloop” rond om genoeg inligting te kry vir die “ysbreker” om die ander lede te leer ken.
Ons kuier bietjie rond en bekyk ons “spokie” geskenke voor middagete bedien word.
Na ‘n heerlike laaste byeenkoms vir 2024 maak die dames gereed om huistoe te gaan.
Leave A Comment