Sirkel: Paarl

Tak: Strand

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Erna de Waal

Datum: 22 Oktober 2024

 

VAN JEUG TOT OUDERDOM, VAN DIE OUE TOT DIE NUWE

Dis ‘n pragtige lente oggend in die mooiste, mooiste maand en die afwagting en opgewondenheid is duidelik voelbaar waar die VLV-lede van Strand Tak vergader vir hul voorlaaste vergadering vir hierdie jaar. Die jeug by monde van die Junior Koor van Hendrik Louw Laerskool begin die besondere dag met pragtige, perfek afgeronde koorsang onder leiding van Alta Retief en Norlé Thompson by die klavier. Die ouderdomme wissel van 7 jaar tot 9 jaar oud en hierdie vrolike koor is genoeg om die donkerste gedagtes te verdryf.

Die spreker vandag is verpleegsuster Hildagonda Brandt wat sinvolle wenke gee vir ‘n gesonde leefwyse as senior lede van die gemeenskap aangesien Strand tak hierdie jaar besonder aandag aan die bejaardes gegee het – ook aan hulle fiksheid. Drie lede van die Bestuur, onder leiding van Sr Brandt demonstreer stoeloefeninge waaraan almal teenwoordig ook hartlik deelneem en hopelik daagliks gaan toepas.Sy gee ook voorstelle wat ons in ons mediese kissies behoort te hê wanneer ons met vakansie gaan: Verbande, ‘n skêr, pleisters, ‘n haartangetjie, sonbrand room/olie, pynpille, antihistamien room/pille (vir insekbyte), oogdruppels, ontsmettingsmiddel, watte.

Dit is ook die tyd van die jaar wanneer nuwe Bestuurslede aangekondig word asook die uittredende lede wat ‘n welverdiende rustyd tegemoet gaan. Die vier lede wat uittree is: Leta du Preez (Voorsitter); Bets Basson (Leefstyl); Hester Jordaan (Gesondheid en Hilary Nepgen (Tesourier).Hulle het vir vele termyne hul tyd, energie en liefde vir Strand tak gegee en ons gun hulle die rustiger tyd wat voorlê Die nuwe lede op die Bestuur is Emsie Marx (Leefstyl) en Adriana Smith (Gesondheid).

Om van jou Voorsitter afskeid te neem is altyd moeilik en emosioneel. Om van Leta du Preez afskeid te neem as Voorsitter is dubbel moeilik omdat dit nie moontlik is om in woorde uit te druk die enorme bydrae wat sy in haar termyne gelewer het nie. Sy is altyd vriendelik, vrolilk, vol begrip, besit ‘n skatkis van kreatiewe idees, is hartstogtelik lief vir die VLV en haar positiwiteit is aansteeklik. Sy het haar VLU jare begin in Secunda in 1979. Daar het sy op die Bestuur gedien totdat sy in 1986 voltyds die onderwys betree het. Sy het egter steeds die Aand tak se beoordeling behartig. Sy en haar gesin het Strand toe verhuis in 1994. Sy het die onderwys vaarwel toegeroep in Desember 1996 en sluit by VLV Strand tak aan. Vanaf 1997 tot 2024 dien sy op die Bestuur in verskillende portefeuljes. Sedert April 2015 was sy Voorsitter van Strand tak toe sy Maretha Bedenhorst opgevolg het. Sy het lank op die destydse Kaapstad Sirkel se Bestuur gedien en is sedertdien op Paarl Sirkel se Bestuur. Sy hoop om nog baie jare lid van Strand se VLV te wees. Mariaan Herbert neem by haar die aflosstokkie oor as Voorsitter.

Junior koor van Hendrik Louw Laerskool in die Strand het die VLV-lede in vervoering gehad met hul vrolike sang.

Leta du Preez, uittredende Voorsitter van VLV Strand tak besig om haar gewone pittige en besielende verwelkoming oor te dra.

Uittredende Bestuurslede: v.l.n.r. Audrey du Toit wat uittree as Sekretaris maar aanbly as vise Voorsitter sowel as Sekretaris; Hester Jordaan (Gesondheid); Bets Basson (Leefstyl); Leta du Preez (Voorsitter); Hilary Nepgen (Tesourier).

Mariaan Herbert, nuut verkose Voorsitter en Audrey du Toit, nuut verkose vise Voorsitter sien uit na hulle nuwe uitdagings.

Alletta Esterhuyse, nuut verkose Tesourier, ontvang haar kenteken van Hilary Nepgen wat uittree. Sy vul ook die Kunste en Handvlyt portefeulje.

Mariaan Herbert, nuwe Voorsitter van Strand-tak, ontvang haar kenteken van die uittredende Voorsitter, Leta du Preez.

Leta du Preez oorhandig die aflosstokkie van VLV Strand aan Mariaan Herbert wat die wedloop gaan voortsit.