Sirkel: Weskus

Tak: St Helenabaai

Portefeulje: Landbou

Beriggewer: Wilna Marx

Fotograaf: Elmarie Visser

Datum: 22 Oktober 2024

St Helenabaai gaan maak ‘n draai by Riebeek-Kasteel se fraai!

Soos goud breek die son oor ons baai waar ons vyf en veertig dames die luukse bus bestyg vir ons uitstappie na Riebeek-Kasteel. Met ‘n heerlike ontbytboksie op elkeen se skoot, vertrek ons.

 

Heerlik in die bus.

 

Ons eerste stop is so wraggies waar by ‘n wynplaas: “Riebeek Valley Wine Company”. Vonkelwyn wag vir ons toe ons instap. Maar dis nie vir vonkelwyn wat ons hier aangedoen het nie,  nee, vandag gaan elkeen van ons, ons eie wyn maak, bottel en ook ‘n etiket daarop sit.

 

Voor ons op die tafel is verskeie rooiwyne, glase, maatbekers, brood, gegeurde olyfolie, ens.

 

Gereed vir die wynmakers van St Helenabaai.

 

Wat is nou lekkerder as om iets te skep. Nooit gedink ons gaan die dag beleef waarop elkeen van ons, haar eie unieke wyn gaan maak nie. Nogal ‘n proses, dit is besluit watter wyn, hoeveel van elkeen en dan baie versigtig in die smal maatbeker skink.  Die jong wynmaker beveel aan dat ons nie net elkeen een wynvermenging moet doen nie, maar ‘n paar om seker te wees ons wyn is vir ons baie lekker.

 

Om elkeen ons eie bottel se kurk te kon insit was heerlik, en darem het die armspiere lekker oefening gekry.

 

Ons dames word wynmakers.

 

Met ons eie bottel wyn in die hand  vertrek ons na die volgende stop.  Het Vlock kasteel met die mees ongelooflike olyfversameling, en vele meer. Dis net hier waar ons oudste lid wat vandag saam ons is, so lekker kon sit en bietjie uitrus.  Tannie Neeltjie is 89 en vir elkeen van ons ‘n voorbeeld om na op te kyk.

 

Tannie Neeltjie

 

Na ‘n heerlike proesessie en mandjies vol aankope val ons weer in die pad. Nou breek ons groep op, en kuier in klein groepies in Riebeek-Kasteel se dorpie rond. Eet ‘n ligte middagete, doen inkopies en verlustig ons sommer in die mooi om ons.

 

Ons groep dames by Het Vlock Kasteel.

 

Om drie uur, doodmoeg en volgelaai met pakkies is ons weer in die bus om die terugtog aan te pak. Min wetende dat daar nog een groot onbeplande avontuur op ons wag.

 

Iewers tussen Riebeek-kasteel en Moorreesburg roep van die dames agter in die bus benoud dat die bus baie warm word. ‘n Stop langs die pad lewer niks op nie en ons ry stadig tot in Moorreesburg.

 

By die eerste motorhawe trek die bus in. Ons klim almal vinnig uit die warm bus. Na ‘n deeglike enjin-ondersoek word daar bepaal ‘n pyp in die enjin het gebars en ons sal moet wag op ‘n nuwe bus. Soos ware VLV lede aanvaar ons die teëspoed met grasie en maak ons tuis op die motorhawe se muurtjie. Maar ook eers nadat ons heerlike, yskoue roomyse gaan koop het.

Van die dames ontspan terwyl ons vir die nuwe bus wag.

 

 

Rachelle het besluit om die tyd om te hekel.

 

Gelukkig was die wag nie te lank nie, en vertrek ons. Na die heerlike dag van uitstekende beplanning en harde werk deur ons landbou groepie onder leiding van Annelie Nieman kom ons veilig tuis met ons eie wyn, inkopies en ongelooflike herinneringe aan ‘n heerlike dag.

 

Annelie Nieman met ons tuiskoms.