Sirkel: SWD
Tak: Sedgefield
Portefeulje: Opvoeding
Saamroeper: Miemie De Lange
Beriggewer: Carin Van Niekerk
Datum van vergadering: 16 Oktober 2024
NSRI red lewens op see en by binnelandse waters
Die VLV-Sedgefield tak se dames het op 16 Oktober 2024 ‘n heerlike uitstappie na die NSRI-Wilderniss onderneem. Ons was ook bevoorreg dat Petro Döman, een van SWD se bestuurslede, teenwoordig was. NSRI is ‘n nie-winsgewende organisasie wat landswyd mense op see by 50 basisse en by vier binnelandse waters red.
Gerhard Rosenmann, een van die vrywilligers van die Wilderniss NSRI (basis 23), het baie interessante en leersame inligting met die dames gedeel. Daar is tans 45 onbetaalde vrywilligers (waarvan agt dames is) by die Wilderniss basis wat dag en nag op bystand is. Landswyd is daar 1400 opgeleide vrywilligers Die uitrusting wat hulle nodig het om te dra tydens ‘n reddingspoging, is altyd gereed. Hierdie uitrustings kos ongeveer R 3500,00 per uitrusting. Dit neem ongeveer drie jaar om opgelei te word. Die bemanning kom elke Woensdag bymekaar om te vergader en take soos die skoonmaak van die bote, gebou en toerusting uit te voer. Volgens Gerhard is daar baie mense nodig om ‘n stasie te help onderhou. Naweke word gebruik vir fisiese opleiding. Dit kan gebeur dat ‘n bemanningslid getraumatiseerd is na ‘n reddingspoging. Daarom is daar ‘n kroegarea waar daar informele gesprekvoering plaasvind. Indien dit nodig is, word die lid vir verdere sielkundige behandeling gestuur. Dit is ‘n konfidensiële proses. Elke lid moet jaarliks ‘n doktersverslag inhandig wat aandui dat hy/sy fiks en gesond is.
Wilderniss het twee susterbasisse om bystand te kan verleen, naamlik Mosselbaai en Knysna. Daar is ook reddingsbote by Heroldsbaai en Sedgefield. Wilderniss beskik oor drie reddingsbote en ‘n volledigtoegeruste mobiele eenheid vir ‘n noodsituasie. Reddingsoperasies sluit o.a. in bemanningslede van groot bote wat mediese hulp nodig het. Soos al die landswye NSRI- basisse, het Wilderniss basis ook ‘n goeie verhouding met ander nooddienste en die polisie, sowel as met die verkryging van helikopters. Hulle glo dat ‘n susksesvolle reddingspoging ‘n spanpoging is.
Die NSRI se opvoedingsprojek word die WaterWise Academy genoem. Dit het ten doel om kinders in veral agtergeblewe gemeenskappe te leer wat hulle in ‘n noodsituasie in die see of in ‘n dam moet doen. Hulle word ook geleer om basiese kardiopulmonêre resussitasie (CPR) toe te pas terwyl hulle vir die ambulans wag.
Donasies en borgskappe dek die landswye jaarlikse onkoste van ongeveer R73.4m. Dit gebeur dikwels dat donasies van mense wat gered is, ontvang word. Die hoofkantoor is in Kaapstad. Enige navrae kan gerig word aan info@searescue.org.za indien iemand sou belangstel om selfs net soveel as R50,00 per maand by te dra. Dit is ook ‘n goeie idee om die noodnommer 112, of Wilderniss basis se nommer 082 990 5955 op jou kontaklys hê.
Leave A Comment