SIRKELNUUS
Sirkel: Overberg
Saamroeper: Bestuurspan
Beriggewer: Hermien van Zyl
SIRKEL OVERBERG AMPSDRAERS VIER VLVK SE 95STE VERJAARSDAG
Oktobermaand is vir die meeste takke in sirkel Overberg ‘n kans om ‘n uitstappie te onderneem, want normaalweg is die jaar se verpligtinge afgehandel, die boekjaar het gesluit en takverslae oor bedrywighede op takvlak is ingehandig.
Omdat die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland vanjaar hul 95ste bestaansjaar vier, het Kleinmond-tak besluit dis ‘n gulde geleentheid om op 15 Oktober, die fisiese stigtingsdatum van hierdie organisasie, hul Hoofkantoor in Jubileumhuis op Stellenbosch, te gaan besoek. Die plan was om met ‘n verjaarsdagkoek en ander lekkernye op die stoep wat op Dorpstraat uitkyk, te gaan kuier. Maar die datum het gebots met skoonmaakdienste.
Toe besluit die taklede dan gaan maak hulle van Overberg sirkel se Ampsdraersvergadering op Caledon ‘n partytjie, want die spreekwoord sê mos “A party without a cake is just a meeting!”
Baasbakster Petra Potgieter, Leefstylsaamroeper en vise-voorsitter van VLV-Kleinmond, het ‘n veerligte verjaarsdagkoek gebak en kunstig versier. Kleinmondtak het druiwesap (met ys!) saamgeneem en VLV-Caledon het reggestaan met glase en kleinbordjies om die feesviering vlot te laat verloop. Bykomend was ander heerlike versnaperings wat deur die bestuurslede van die ander takke saamgebring is. Dit was ‘n feestelikheid, want die VLV-vroue van die Overberg is baasbaksters. Sirkelpresident Elbé Fourie het ‘n heildronk op VLVK ingestel en die koek seremonieël gesny en daarná is daar toe wel vergadering gehou.
Sirkelpresident, Elbé Fourie, stel ‘n heildronk op VLVK se 95ste verjaarsdag in.
Elbé Fourie by voormalige sirkelpresident en op die oomblik voorsitter van Kleinmond, Hermien van Zyl.
Petra Potgieter, Leefstylsaamroeper en vise-voorsitter van VLV-kleinmond by Hermien van Zyl en Elbé Fourie.
Ampsdraers neem hulle sitplekke in die NG Kerk, Caledon-wes in.
VLVK Verjaarsdagkoek by ou VLV breekware.
Leave A Comment