SIRKEL: Sirkel Middelland
TAK: Steytlerville
PORTEFEULJE: Potpourri
Saamroeper: Al die Saamroepers van 2025
BERIGGEWER: Henda Kleinhans
FOTOGRAAF: Moraine Nel
DATUM: 10 Oktober 2024
Steytlerville se allegaartjie
Ons het weer eens ‘n heerlike VLV-vergadering in Oktober gehou en was bevoorreg om twee gaste te verwelkom, nl. Linda Grieb en Liesl Hattingh.
Met die grootste werk vir die jaar feitlik afgehandel en die nuwe bestuur klaar verkies, het ons ‘n potpourri-vergadering gehad – so ‘n regte lusmakertjie vir 2025. Henda Kleinhans, nuwe Saamroeper vir Leefstyl, het die kompetisie-artikels vir volgende jaar bespreek. Die artikels vir masjienwerk, borduurwerk, hekel-en breiwerk is met sulke fyn smaak gekies, sodat elkeen dit baie graag sou wou probeer doen. Wat die gebak, gebottel en lekkers aanbetref, was almal dit eens dat dit maklike, doenbare resepte is. Daarna het Maryna van Loggerenberg, ons nuwe Saamroeper vir Kuns en Handvlyt, al die moets en moenies van volgende jaar se fotogafie, skilderkuns en handvlytartikels bespreek.
Wilna Nelson (Landbou en Tuinbou) het vertel hoedat ‘n blom wat nie onlangs deur ‘n by besoek is nie, statiese elekrisiteit afgee wat die fyn haartjies op die by se rug kielie om te sê dat daar nog baie nektar beskikbaar is. In absentia het Igna Deyzel, Saamroeper vir Opvoeding, vertel waar die gebruik van die Afrikaanse woord “oukei” vandaan kom en dat dit ook nou in die HAT opgeneem is. Daar is baie verklarings, maar een daarvan is dat Pres. Andrew Jackson van die VSA, vroeër jare ‘n hofklerk was en dat hy al die dokumente wat hy moes deurgaan en wat korrek was, met ‘n “OK” gemerk het. Feit is egter dat hy nie kon spel nie – hy het eintlik “all correct”, bedoel, maar hy het gedink dat “all” met ‘n “o” begin het en “correct” met ‘n “k”!!
Van Verona Harty van Openbare Sake het ons gehoor hoedat die SA Rewerwebank voorsorg met ons banknote getref het sodat dit nie maklik vervals kon word nie, o.a die watermerk wat ‘n skadubeeld van een van die Groep 5 diere uitbeeld, die goue stippellyn waarop die woorde ‘SA Reserve Bank’ teen die lig waargeneem kan word, om maar twee te noem. Susan Hayward (Gesondheid) het ons meer vertel van die menslike oor. Interessant was die feit die oor nooit ophou groei nie – daarom lyk ouer mans se ore soms baie groot. Die vrouens kan dit darem onder hulle hare wegsteek! Ook interessant is die diagonale lyn wat dwarsoor een of albei oorlelle loop – dit dui op ‘n moontlike koronêre hartsiekte of beroerte.
Seugnette Wilken het ‘n kort opsomming gegee van al die dokumente wat nodig is as iemand tot sterwe sou kom en het almal aangeraai om nou al die digitale vorm in te vul en op ons rekenaars te stoor. Al die lede het dit per epos ontvang.
Dit was ‘n lekker leersame vergadering, terwyl daar ook met deernis gedink is aan almal wat met kanker worstel. Ons het meelewing getoon deur pienk strikkies te dra en ‘n milde bydrae vir KANSA te gee.
Henda Kleinhans bespreek die Leefsyl kompetisie-artikels vir 2025.
Maryna van Loggenrenberg aan die woord oor die Kuns en Handvlyt-artikels vir 2025
Wilna Nelson , Saamroeper vir Landbou en Tuinbou gesels oor bye.
Susan Hayward bespreek die menslike oor.
Seugnette Wilken, Opvoeding Saamroeper 2024, aan die woord.
Leave A Comment