SIRKEL: Noord-Karoo

TAK: Murraysburg

PORTEFEULJE: Landbou en Tuinbou

DATUM: 9 Oktober 2024

BERIGGEWER: Theresa Troskie

 

Murraysburg skeerders skeer die wêreld aan die brand!

 

Chrisma, vrou van Dirk van der Merwe wat die eienaar is van Murraysburg Skeerdienste, vertoon ’n interessante video oor al die aspekte van hul besigheid. Om te kan skeer, word ’n skaars vaardigheid in Suid-Afrika. Internasionaal word daar egter gereeld skeerkompetisies gehou wat hierdie “ambag en sportsoort” baie aandag laat trek! Die kompetisiegees het ook in Suid-Afrika posgevat. Murraysburg Skeerdienste het vanjaar by meer as een geleentheid op nasionale vlak pryse met hul skeerwerk verower.

 

Die uitdagings om ’n skeerdiens te begin:

  • Dit is belangrik om manne te kry wat ’n passie vir en trots in hul werk het.

Soms word die eienaar teleurgestel deur skeerders wat onbetroubaar is.

  • ’n Goeie skeerder moet kalm van geaardheid wees, hy moet topfiks wees om heeldag te kan kromstaan oor die skaap, hy moet netjies en met spoed kan skeer.
  • Dit neem tyd en geduld om ’n goeie skeerspan saamgestel te kry.

 

In die video vertel Dirk met trots dat Murraysburg Skeerdienste om die volgende redes anders as ander spanne is:

  • Die span hanteer die hele skeersel, ook die stukkies;
  • Hulle is gesteld daarop om die wol goed te klasseer sodat hulle vir die boer die meeste geld in sy sak kan kry;
  • Hulle monitor die wolpryse op veilings en stel belang in individuele boere en die pryse wat hulle op die veiling kry.
  • Hulle voeg waarde tot die skeersel toe.

 

Dirk sorg dat sy skeerders goed ingelig is oor wat by kompetisies van hulle verwag word.

  • Dit is byvoorbeeld belangrik hoe jy jou skaap uitvang, hoe jy hom neersit en die posisie wat jy inneem oor die skaap.
  • Nadat ’n skaap klaar geskeer is, word hy van sy snoet tot by sy stert geïnspekteer vir snymerke, wol wat agtergelaat is of onegalige skeerwerk.
  • Geld is altyd ’n kwessie en daar word staatgemaak op goeie borge.
  • Daar word jaarliks opleiding vir skeerders in S.A. gedoen.
  • Fitness, concentration en perseverance is eienskappe wat ’n goeie skeerder moet inoefen vir kompetisies.

 

Tino Brouers, self ’n uitmuntende skeerder, vertel met trots oor sy werk en prestasies. Daar word met handskêrre sowel as met elektriese skêrre geskeer. Hy het nie in sy wildste drome gedink dat daar vir hom ’n toekoms in skeerwerk sou lê nie. Hy het geleer dat uithouvermoë baie belangrik is en dat leiers nie noodwendig altyd hoef te wen nie, maar dat hulle hul span moet lei en aanmoedig om elk te wen en presteer. Kompetisies bou die moreel van die span asook positiewe spangees.

 

The Clean Trade Project skop met ’n knal af in Graaff-Reinet.

 

Imke Marais het onlangs na Graaff-Reinet teruggekeer en betrokke geraak by hierdie projek. Sy is passievol om ’n skoner, gesonder omgewing te verseker asook om gemeenskappe op te bou. Die projek het al in baie dorpe vastrapplek gekry en word suksesvol bedryf.

 

Hierdie projek is ’n hartsprojek vir en deur die gemeenskap. Herwinbare materiaal word bymekaargemaak en kan verruil word vir produkte wat by die versamelpunt beskikbaar is.

 

Hoe werk dit?

’n Sak herwinbare rommel word versamel, gesorteer en gewas en dan verruil vir ’n penning(s) wat gebruik word in ’n ruiltransaksie vir produkte of kospakkies wat by die versamelpunt beskikbaar is. Dit is nie ’n winsgewende projek nie, maar gee aan armes menswaardigheid deurdat hulle werk.

 

Almal in die gemeenskap kan by hierdie projek betrokke raak deur byvoorbeeld:

  • Donasies van produkte of geld.
  • Koopbewyse kan gekoop word en bv. aan karwagte gegee word wat dit kan verruil vir kos.
  • Jy kan as ’n vrywilliger by die versamelpunt gaan help.

 

Dis lente liewe lente …!

 

Elana Grobler, Murraysburg se saamroeper van Landbou en Tuinbou, het gesorg vir emmersvol loof in alle kleure, geure en teksture. Lede moes hul snoeiskêre en ’n lekker groot blompot saambring sodat daar lustig met loof gerangskik kon word.

 

Dit was ’n gesellige gekuier, gesels, raadgee en lekker lag rondom die blompotte! Die dames se kreatiwiteit en oorspronklike idees was vir almal ’n verrassing en inspirasie!

Murraysburger skeerders presteer by nasionale kompetisies. Die 4 skeerders is v.l.n.r. William Dokter, Pieter Dokter, Tino Brouwers en Henry Frazenburg.

Chrisma van der Merwe en Tino Brouers

Dirk van der Merwe, eienaar van Murraysburg Skeerdiens gee wenke aan kompetisie-deelnemers.

Wilna Pienaar

Elana Grobler het gesorg vir loof en nogmaals loof om mee te rangskik!