Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Saamroeper: Bestuurspan
Beriggewer: Letty-Ann Möller
Datum: 8 Oktober 2024
Bredasdorp verwelkom 50ste lid met Potpourri- byeenkoms
Ellij Greeff, destyds die dryfveer agter Kultuursake op Franchhoek, is die 50ste VLV-lid van VLV Bredasdorptak. Ellij,hartlik welkom. Ons gaan nog baie by jou leer!
8 Oktober 2024 het die takbestuur ons nuwe bestuurslede bekendgestel en op ‘n informele wyse van ons ou bestuurslede afskeid geneem. Die hele tak se nuwe ampsdraers (sien foto) het hulle portefeuljes met ‘n statiese uitstalling voorgestel terwyl Ora Laubscher, vise-voorsitter, elke bestuurslid met relevante kommentaar aangekondig het. Bestuurslede het elkeen met items in die hande aangestap gekom na die uitstallingstafels en dit aan die voetstuk van hulle statiese uitbeeldings van bv Tesourier (kasboek, optelmasjien, bankkaartapparaat, Monopoly geld in ‘n blou geldkassie, hoed en das); Openbare Sake met Die Burger gedrapeer oor ‘n draadrakkie en die deel van inligting oor buurtwaglede wat onlangs platgeskiet is in die Oos-Kaap; Opvoeding en Kultuur met die trofee wat jaarliks deur ons VLV–tak aan die hoërskoolleerder met die hoogste punte in Verbruikerstudie toegeken word; Gesondheid wat met pleisters (ook vir die siel!) en stetoskoop uitgebeeld is en ‘n saamroeper wat kiertsregop aangestap gekom het – sy was voorheen die hoof van die plaaslike militére basis se siekeboeg en soos een opgemerk het: ”… ek het Annatjie nog nòòit so regop sien loop nie! Dan was daar Landbou en Tuinbou met die twee streepsakke oor ‘n bokkie gedrapeer; Leefstyl met ‘n bos vars blomme in ‘n groen vintage blompot,‘n luuks geborduurde Indiese kettingsteek voetstoeltjie en al die panache wat van die elegante vrou verwag word. Kuns-en Handvlyt is uitgestal op ‘n esel met ‘n olieverf skildery en drie handgemaakte huisies (klink bekend, né).
Die gehoor het nie net kriptiese feite oor elke portefeulje gehoor nie maar ook volledige terugvoer oor die 2024 Kongres van ons sekretaresse, Diana Odendaal, wat ons afgevaardigde was, gekry.
Die voorsitter, Letty-Ann Möller, het gunstige reaksie ontlok toe sy ‘n kleurvolle Josefskleed oor haar skouers gooi om die nuwe jaar tema “Lewe in KLEUR” aan te kondig.
Een van ons drie nuwe bestuurslede, AnneMarie Burger, het die Afrikaans is GROOT- woordlapkombers bekend gestel en die hoofspreker, Yvonne de Wit, het gesorg vir vasgenaelde oë op haar demonstrasie van die maak van bamboesjuwele. (Sy het eenvoudige gereedskap, rou produkte en verwerkte produkte gewys. Verder is lede uitgenooi na haar professionele werkswinkel op Napier).
Uniek aan hierdie potpourri-vergadering is die feit dat bestuurslede slegs vir die inhoud van die vergadering en die gasspreker se geskenk (vars- en tuisgemaakte produkte) verantwoordelik was. Die gasvroue wat reggestaan het vir koek en tee en die geskenke vir ons lootjies was ons tesourier, Madelé Burger en haar mede-gasvroue. Dit was ‘n éérste en baie geslaagd want nie alleen is die verantwoordelik nie, maar ook die kostes sodoende verdeel. Meer lede is betrek by die reël van die vergadering en per implikasie was daar meer lede teenwoordig. Ons het ‘n voorstel van die vloer gehad dat ons al ons takvergaderings in die toekoms so moet aanpak en die voorstel is aanvaar.
Nou lê die jaarafsluiting van 5 November voor en die gasspreker is Robert Hayes, eienaar van die Sir Napier Boutique Gastehuis.
Hartlik geluk, VLV Bredasdorp! Julle gaan van krag tot krag, bly aktueel en vars. Knap gedaan.