Sirkel: Middelland

Tak: Alexandria

Beriggewer: Erentia Hendriksz

Fotograaf: Christel Bakkes

Datum: 19 September 2024

 

Somer Kersfees op Alexandria

 

Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer

Skenk ons ‘n helder somer Kersfees, in hierdie land o Heer!

-Laurika Rauch

VLV Alexandria vier ‘n vroeë Kersfees met hul Potpourri samekoms in September. Die inspirasie kerse het omtrent hoog gebrand en die verskillende portefeuljes se kreatiwiteit het weereens nie teleur nie. ‘n “Rustic” Kerstafel is deur Anlouise o’Connell en Erentia Hendriksz gedek. Hulle wys die lede hoe om met loof en ‘n paar rooi bessies ‘n besonderse tafelrangskikking te maak met die plante wat jy in jou tuin het.

Anlouise o’Connell, Leefstyl saamroeper het die lede touwys gemaak in servette vou. Strikkies, kersboompies en selfs ‘n elfhoedjie kan nou op ons kerstafels pruik. Christel Bakkes, Kuns & Handvlyt saamroeper het gewys hoe om ‘n baie veelsydige geskenk boksie uit karton te vou, sy het dit pragtig versier en dit het ook gedien as plekaanwyser op die inspirasie Kerstafel wat gedek is.

Erentia Hendriksz, Gesondheid saamroeper, praat met die lede oor emosionele welstand tydens Kersfees, wat aanleiding kan gee tot angs, depressie en wanhoop tydens die feesgety en wat die lede kan doen om die emosies beter te hanteer. Susan Erasmus en Elria van Niekerk van Landbou & Tuine se groenvingers het die res van die lede so begeester dat daar verseker aan elke voordeur ‘n tuisgemaakte kerskrans gaan hang en op elke stoep ‘n toegerankte ster gaan pruik.