Sirkel: SWD

Tak: Sedgefield

Portefeulje: Opvoeding

Saamroeper: Gerda Van Der Westhuizen

Beriggewer: Carin Van Niekerk

Datumvanvergadering: 18 September 2024

VLV-Sedgefieldtak in pienk en wit getooi vir borskankerbewustheid

Die VLV-tak Sedgefield se gesondheidsvergadering was op 18 September 2024 ‘n teepartytjie ten bate van KANSA. Die saal was propvol dames van die VLV sowel as die plaaslike gemeenskap. Ter ondersteuning van borskankermaand in Oktober, het Kathryn du Plessis, sonografis van Keystone Radiologie in George, die dames toegespreek.

Sy het haar praatjie afgeskop met die woorde: Kennis is mag. Eerstens het sy na skrikwekkende statistiek van kanker en spesifiek borskanker verwys. Wêreldwyd word daar elke 15 sekondes iemand met kanker gediagnoseer waarvan 40% tot 50% borskanker is. 85% van hierdie gevalle het geen familiegeskiedenis van borskanker nie. 50% gevalle wat gediagnoseer word, is alreeds in fase 4. In Suid-Afrika is 50% tot 57% gevalle wat gediagnoseer word, ook alreeds in fase 4.

Vrouens moet bedag wees op risikofaktore. Vrouens bo 50 staan die grootste gevaar om borskanker te kry, maar daar kom ook heelwat gevalle voor by vrouens jonger as 50. Dogters wat jonger as twaalf begin menstureer, en vrouens wat na 55 menopouse kry, is ook risikogevalle. So ook ‘n persoonlike geskiedenis van kanker, ‘n familiegeskiedenis van kanker, veral as dit van beide kante van die familie voorkom en genetiese mutasie. Alle vroue, en selfs mans, kan egter borskanker kry al is daar geen risokofaktore nie. Daarom is dit belangrik om ‘n gesonde leefstyl te handhaaf. Die waarde van gereelde oefening, ‘n gesonde dieet, beperking op alkoholinname en voorkoming van oorgewig en vetsug, is van kardinale belang. Hormoonvervangingsterapie moet altyd in oorleg met jou dokter gedoen word.

Dit is verder belangrik dat elke vrou deeglik ingelig moet wees van die tekens van moontlike borskanker: ‘n Ongewone knop in die bors wat gewoonlik soos ‘n harde suurlemoenpit voel; ‘n verandering in die grootte of vorm van die bors; afskeiding van die tepel; onnatuurlike rimpeling of veranderings in die kleur en tekstuur van die vel, soos “suurlemoenskilvel”; ‘n ingetrekte of rooi tepel, of skubagtigheid en afskilfering van die vel om die tepel; swellings in die bo-arm of in die armholte, net bokant die bors; swelling en ‘n warm gloed in die bors; pynlike ongemak. Daar is gevind dat agt uit tien knoppe in die bors gewoonlik nie kwaadaardig is nie, en dat kanker gediagnoseer word in net een uit elke 40 vroue wat enige van dié lys simptome onder die aandag van ‘n dokter bring. Daar is’n interessante ooreenkoms tussen suurlemoene en menslike bors. Daarom is daar ‘n webtuiste www.knowyourlemons.org waar al die nodige inligting oor borskanker gekry kan word. Jy kan ook ‘n toepassing (app) met dieselfde naam aflaai.

Doen maandeliks selfondersoek: Staan voor die spieël en kyk en voel of daar enige veranderings van jou borste is; strek jou arm agter jou kop terwyl jy lê, sit of selfs in die stort is en voel dan of daar knoppe is. Knoppe wat soos sagte ertjies of boontjies voel, is gewoonlik skadeloos teenoor harde onbeweeglike knoppe wat dadelik mediese aandag moet kry. Daarom kan die besoek aan ‘n opgeleide sonografis wat ‘n mammogram doen, nie genoeg beklemtoon word nie. Daar is allerhande mites oor ‘n mammogram dat dit kanker kan veroorsaak en dat dit pynlik is. Die tegnologie is egter al so gevorderd dat dit ‘n pynlose ondersoek is en beslis nie kanker kan veroorsaak nie. Die doel van ‘n mammogram is juis om die kanker so vroeg as moontlik op te spoor. Daar word aanbeveel dat vrouens bo 40 jaarliks moet gaan vir ‘n mammogram, aangesien kanker dalk net na die ondersoek kan ontwikkel en dan kan dit so met die volgende mammogram vinniger opgespoor word. Mammogramme word deur opgeleide sonografiste gedoen en ‘n radioloog sal die resultate van jou borskankerskandering hersien deur na tekens van abnormaliteite te soek. Soms is dit ook nodig om ‘n borsultraklank te doen as ‘n verandering op ‘n mammogram opgespoor word of wanneer ‘n verandering gevoel word, maar nie sigbaar is op die mammogram nie. Keystone Radiologie beskik oor ‘n mobiele borskankereenheid waar mammogramme en ultraklank jaarliks gedoen word. Die kontaknommer is 0761999849. Dit vind vanaf 7 Oktober tot 1 November by George Voorbereiding Skool plaas.

As borskanker dan gediagnoseer word, moet daar bepaal word watter tipe en fase kanker dit is. ‘n Besoek aan die onkoloog en ‘n biopsie sal die tipe behandeling bepaal. Die bors word nie noodwendig verwyder nie. Chemoterapie en bestraling is ook opsies vir die behandeling van die kanker.

Na afloop van die praatjie, het Gigi, Antoinette en Lize van Sedgefield Melodrama die dames met pragtige dansuitvoerings vermaak. Heelwat dames is nie met leë hande weg nie, aangesien daar gelukkige trekkings was wat deur die volgende borge verskaf is: Pooch & Purr, Carolyn’s Chocolate, Harry’s Pub & Grill, MacButners Foods, DK-hair, Riita Knoetze Artist, Snails by Sherri, Satin & Silk, Oasis Water, Sarie Spices, CBD Care, Rosies Steak Bar, Engen, Humble Crumble, Wimpy, Café Vienna, Dr Senekal, Sardinii Car Wash, Universal Cellular, Madelien Stapelberg (spesiaal versierde koek), Karen Nell (tafelversierings), Marie (pop) en The Art Hub Sedgefield. Baie dankie ook aan Petra Smith met die verkryging van die borge. ‘n Spesiale woord van dank aan die lede wat gehelp het en Gerda van der Westhuizen wat as gasvrou opgetree het. Welgedaan! Die saal het met die wit en pienk vlaggies deur Miemie de Lange, Michelle van Antwerpen en Christie Broden gemaak, sowel as die pragtige tafelversierings deur Karen Nell, Margaret Waterson en Carin Conradie, vrouwees en bewusmaking van borskanker gevier. Ter afsluiting het die dames heerlike verversings, tee en koffie geniet. Die gelukkige dame wat die spesiale koek gewen het, het besluit om dit aan Loeriehof Ouetehuis in Knysna te skenk. Carin van Niekerk het dit na afloop van die vergadering aan hulle gaan oorhandig.