Sirkel: SWD
Tak: Oudtshoorn
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Isabella Jansen vN
Fotograaf: Isabella Jansen vN
Datum: 18 September 2024

Nostalgie in Oudtshoorn

Radio’s, erfenis en nostalgie het die hoogty tydens hierdie vergadering gevier. Die lede was getooi met ‘n borspeld van Ouma, ‘n voorskoot van Ma of soos Rolina aan ons wys, haar aandromp wat sy in die sewentigerjare (van die vorige eeu) gedra, steeds modieus.

Die nostalgiese word met die moderne versoen toe die direkteur van Oudtshoorn se radiostasie, Radio Klein Karoo, wat wêreldwyd op die internet uitsaai as spreker optree. Danie le Roux deel sy komvandaan in die mediawese met ons en lig ons ook van die tegniese sy van radiowese in.

Danie le Roux aan die beurt

Die erfenistafeldoek word onthul. Elke lid het vroeër in die jaar ‘n handjie uit ongebleikte linne geknip ontvang wat hulle na goeddunke kon versier. Al dié handjies is op ‘n tafeldoek vasgewerk met die idee dat ons so sigbare herinneringe van al ons lede die afgelope 80 jaar kan hê.

Petro Heyns hou die erfenistafeldoek vas

Alet Badenhorst wys haar tafeldoek vir ons wat geborduurde foto’s van hul afgelope Kruger Nasionale Park-vakansie bevat. Sy noem dat sy met elke steek aan ons wonderlike natuurlewe in Suid-Afrika gedink het.

Alet Badenhorst

Die ander hoogtepunt van die byeenkoms is die nostalgiese items wat die lede gebring het vir ons uitstalling oor toeka se dinge. Isabella het van haar ouma se tafeldoeke saamgebring wat haar ouma vir haar by die olielamp, wat sy ook saamgebring het, gehekel het, lank voordat daar elektrisiteit op die plaas was. Die bêreboekie van 3 September 1958 waaruit een tafeldoek se patroon kom, is ook deel van die uitstalling. Sy vertel verder dat haar oupa eintlik die een was wat haar leer hekel het, dis nou nadat hy in die Eerste Wêreldoorlog na ‘n veldslag in ‘n militêre hospitaal beland het en hekel deel van die soldate se arbeidsterapie was. Annatjie wys haar ouma se pienk handskoene en handsak wat spesiaal vir Ouma se verjaardagtee aangeskaf is. Petro stal ‘n waskom en lampetbeker uit en ook van haar ouma se borspelde, almal so mooi en fyn. Annette het die klere wat haar ma vir haar (Annette) as hospitaaluitset gemaak het uitgestal en ook haar ragfyn dooprokkie. Oupa se gereedskap, kamera en ronde knypbrilletjie het alles deel van ons nostalgiese reis gevorm.

Deel van die uitstalling

Die nostalgiese reis is afgesluit met versnaperinge het ook by ons tema van nostalgie pas: melktert, koeksisters, hertzoggies en worsrolletjies.