Tak: Aberdeen

Portefeulje: 2025 Beplanning en Kunste & Handvlyt

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 18 September 2024

 

Aberdeen VLV Beplan 2025 in Volkleur!

 

 

Kunswerke van die dag uitgestal in ‘n pragtige collage

 

Op ‘n heerlike lente-oggend in September kom Aberdeen VLV se dames by lid Annalie Lategan se plaas Platdrif byeen. Haar pragtuin, wat besig is om uit sy winterslaap te ontwaak, word bewonder.

 

Lea van der Vyver verwelkom almal en open met ‘n stukkie uit Psalm 90 wat ons herinner hoe kosbaar en kort die lewe is – daarteenoor staan God se ewigheid. As ons in ‘n nabye verhouding met God leef, kry ons wysheid en is ons lewe vrugbaar en sinvol. Deur God te vertrou, kan ons voluit en in volkleur leef!

 

Eerste op die agenda is beplanning vir 2025 – die bestuurspan, sowel as die program vir die jaar, word finaliseer.

 

Teetyd word heerlike verversings geniet wat Suzanne Lategan en Heidi Lombard gebring het.

 

Die hoogtepunt van die dag is ongetwyfeld die praktiese kunsklas onder leiding van Annalie Lategan. Elkeen skep ‘n unieke kunswerk en só word die nuwe VLVK-tema, “Kleur jou Lewe”, ingewy. Annalie verduidelik dat die doel van abstrakte kuns is om jou verbeelding te prikkel en ‘n persoonlike emosionele ervaring te wees. Tydens die skeppingsproses met jy kontrole laat gaan, fokus op jou gevoelens en die proses van verf, nie op die uitkoms nie. Hou dit eenvoudig, put plesier daaruit en doen iets onverwags wat buite jou gemaksone is.

 

Tydens die sessie word daar omtrent geverf, gelag en gesels – vir meeste is dit iets buite hul gemaksone! Elkeen staan verstom oor die pragtige, kleurvolle eindresultaat. Die dames keer almal huis toe met ‘n vol gemoed en nuwe energie – reg vir die uitdagings wat voorlê.

 

Suzanne Lategan (links) en Elna van Niekerk by die teetafel stylvol versier met lentebloeisels, varkblomme en kerse

Kunsvoorrade netjies uitgepak

Clarissa Lategan (links) en Elna van Niekerk besig om verf te meng

Petro Marx (links) en Heidi Lombard dink kreatief

Annalie Lategan (regs) gee raad aan Luise de Jager

Lea van der Vyver (links), Suzanne Lategan en Karin Pienaar druk besig