Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Leefstyl

Saamroeper: Linzetta Smith

Beriggewer: Ada Gericke

Datum: 17 September 2024

 

FASHION 4 HAIR TRAKTEER VLV VOËLVLEI OP PRETTIGE WYSE

Die eienares van Fashion 4 Hair in Hartenbos, Hannetjie Claassen, en haar twee kollegas, Nolene en Rochelle het die dames van VLV Voëlvlei sommer met die instap met ‘n geskenkpakkie van haarprodukte welkom geheet. Dis nie verniet dat hulle in die onlangse kompetisie van die Advertiser as wenners in die kategorie vir beste haarsalon aangewys is nie! Hierdie bederf was egter net die voorloper van wat sou volg op VLV Voëlvlei se vrolike September-vergadering.

Hannetjie is al 30 jaar in die bedryf en sy beskryf ‘n haarkapster as ‘n vertroueling, vriendin, sielkundige en ‘mooimaker’ vir al haar kliënte. Dis baie harde werk wat veral die bene laat wens vir ‘n ruskansie, maar die feit dat dames mooi voel as hulle hare goed lyk, maak dit alles die moeite werd.

‘n Belangrike onderwerp wat aangeraak is, is verskillende haarstyle. Gesigsvorms speel ‘n groot rol daarin en soms kom kliënte met prentjies van hoe hulle moet lyk. Hoewel dit haar ‘n idee gee, sal sy ook die haarvorms, soos bv krulle, die handvaardigheid van, en die tyd wat die kliënt kan bestee aan haar hare asook die huidige modes in ag neem.

Hannetjie het twee demonstrasies gedoen. Eerstens het sy op Ada Gericke gewys hoe om plat en dun en fyn hare meer volume te gee. Hoe al die haarprodukte, sowel as die borsels en haardroër gebruik moet word, is gedemonstreer.

Die tweede demonstrasie het Ria Fourie omgetower in ‘n model. Met haar hare is gewys hoedat langer hare volume kan kry met onder andere poeier vir die tekstuur van die hare. Daar is ook gevind dat nie net geboue nie, maar ook hare hul eiesoortige ‘sement’ nodig het!

Die eintlike pret was die gelukstrekking. Die gelukkiges moes óf met asems vol heliumgas iets sê óf slegs met gebare sekere haarstyle voorstel. Dit het gesorg vir lekker lagbuie én lieflike geskenke vir die gelukkige dames wie se nommers getrek is.

Ons Openbare Sake Saamroeper, Andrieshia Radyn, het ook baie interessante inligting met ons gedeel oor verkeersirkels. Die verskillende tipes sirkels wat mens kry, hoe die padtekens daarvan lyk en hoe dit benader moet word.

Ronel Laubscher, Saamroeper van Opvoeding en Kultuur het ‘n bydrae gelewer deur ‘n vasvrae te hou oor die tema “hare”. Dit was ook groot pret en ons het baie geleer. Vrae was byvoorbeeld:

“Wanneer is sjampoe uitgevind” – 1800’s
“Hoeveel hare het ‘n persoon gemiddeld op sy kop” – 100000 – 150 000
“Watter natuurlike haarkleur is die skaarsste in die wêreld” – Rooi

VLV Voëlvlei se dames het na ‘n genoeglike middag op Gourits verder gekuier met ‘n koppie tee of koffie en heerlike verversings. Hulle sien nou uit na hul afskeidsgeselligheid in Oktober om só ‘n suksesvolle jaar af te sluit.

 

 

Die eienares van Fashion 4 Hair in Hartenbos, Hannetjie Claassen, en haar twee kollegas, Nolene en Rochelle

Hannetjie saam met Ada Gericke

Hannetjie en Ria Fourie tydens die “make-over”

Hannetjie en Mathilda Botha wat geleer is hoe om “rollers” te gebruik

Die gelukkige dames wat moes stomstreke speel om hulle pryse op te eis.