SIRKEL: KALAHARI

TAK: VRYBURG

DATUM: 11 SEPTEMBER 2024

TEMA: LEEFSTYL

SAAMROEPER: ERIKA LINDE

BERIGGEWER: NELLIE VILJOEN

 

VRYBURG REIS NA SJINA

 

Vryburg het ‘n reis na Sjina met sy 1,4 biljoen inwoners meegemaak. Daar word meer as 100 tale gepraat, maar Mandaryns word in skole gebruik en buitelanders word verplig om die taal te leer praat, lees en skryf. Engels word in alle skole geleer.

Trudie en Leon Kok het pas teruggekeer na 6 weke by hul dogter in Guangzhou, ‘n stad met meer as 18 miljoen inwoners. Die stad is baie skoon en bome en tuine word oral in stand gehou. Die mense dra baie konserwatiewe klere en diefstal en wangedrag soos dwelmgebruik word glad nie geduld nie.

Brandstofvoertuie word nie in die stad toegelaat nie en elektriese motors is volop. Inwoners maak gebruik van openbare vervoer. Reise na plattelandse gebiede geskied per sneltrein (bullet trains) wat snelhede van tot 350 kpu kan behaal.

Kos is oral op straat te koop. Soja- en oestersous, knoffel en koljander word baie gebruik. Ingevoerde produkte is beskikbaar, maar baie duur.

Elke gas by die vergadering kry ‘n glasie tradisionele borrel tee met vrugtesmaak.

Trudie demonstreer hoe om kluitjies (dumplings) te maak en Erika Linde maak strikdassies (bow ties), “spring rolls” en soetsuur hoender.

Carien van Niekerk vertoon die trofee wat die tak by VLVK Kongres verower het vir positiewe bydrae in die gemeenskap.

Die tak skenk plante en twee suurlemoenboompies aan die dienssentrum om hul tuine te verfraai.

 

Trudie Kok gesels oor haar reis na Sjina

 

Trudie Kok en Erika Linde

 

Carien van Niekerk met die Kallie Liebenbergskild

 

Carina Botma van die dienssentrum met die boompie

 

Dumplings

 

Bow ties 

 

KLUITJIES (DUMPLINGS)

400 g meel

1 eierwit

2,5 ml sout

40 ml olie

150 ml warm water

Meng bestanddele en knie in sakkie tot ronde bol. Laat rus vir 30 min. Knie weer 2 min. Keer uit op meelbestrooide plank. Vorm ‘n rol en sny in 1 cm stukkies. Rol stukke in balletjies en rol baie dun uit in sirkels. Pastamasjien kan ook gebruik word. Vul met enige vulsel.

VULSEL

4 hoenderborsies, gemaal

1 eier, geklits

4 ml sout

2 knoffel tone

sojasous

oestersous

gekapte koljander

gekapte sprietuie

Meng vulsel goed en skep teelepelvol op deegsirkel. Druk rondom vas. Verhit olie in wokpan tot effens bruin. Gooi paar eetlepels water in wok. Sit deksel op om te stoom. Bedien met chillisous

 

WONTON WRAPPERS

Hierdie deeg word gebruik vir tradisionele eetgoed soos Spring Rolls of Bow Ties.

4 x 250 ml meelblom

5 ml sout

3 medium eiers, geklits

250 ml lou water

Meng meel en sout. Voeg eiers by en roer met houtlepel. Dit sal frummelrig voorkom. Voeg water by en knie baie goed tot glad. Laat deeg 10 min rus. Knie weer vir 8 min. Laat rus deeg vir 30 min. Deeg moet baie goed geknie word tot dit elasties is. Verdeel deeg in vier dele en sit in plastiek-sakkie. Dit kan gevries of in die yskas bewaar word vir ‘n paar dae.

Bestuif deeg met mielieblom en rol baie dun uit. Gebruik vir spring rolls of strikdassies (bow ties).

STROOP VIR BOW TIES

250 ml bruin suiker

125 ml warm water

100 ml stroop

100 ml heuning

Los bruinsuiker in lou water op. Voeg stroop en heuning by sodra al die suiker gesmelt is.

Rol deeg dun uit. Sny langwerpige vorms om Bow Ties te vorm. Bak in warm olie soos koeksisters. Hou kokende stroop op die stoof en sit bow ties direk in kokende stroop. Verwyder en dreineer op afkoelrak.

 

SOETSUUR HOENDER

BESLAG VIR HOENDER

562.5 ml bruismeel

50 ml mielieblom

2.5 ml sout

1.25 ml peper

1 eier, geklits

50 ml olie

375 ml water

Meng bestanddele om slap deeg te vorm.

8 hoenderborsies

2 groen soetrissies, in repies

1 blik ingemaakte pynappelstukke, gedreineer

Sny hoenderborsies in 2.5 cm blokkies en skep in beslag. Roer tot alles goed bedek is. Verhit olie in ‘n dieperige pan of wok. Braai hoender goudbruin, omtrent 10 minute, verwyder en dreineer op kombuispapier

SOETSUURSOUS

190 ml wit suiker

60 ml mielieblom

375 ml water

gedreineerde pynappelsap

125 ml asyn

Laat bestanddele vir sous deurkook.

Pak afwisselende lae gebraaide hoenderblokkies, soetrissies en pynappelstukkies in ‘n opdienbak. Skep sous oor en bedien met noedels.