SIRKEL: Noord-Karoo

TAK: Murraysburg

PORTEFEULJE: Damesoggend vir Huishulpe

DATUM: 11 September 2024

BERIGGEWER: Theresa Troskie

 

Murraysburg hou 9de Damesoggend vir Huishulpe

 

 

Vanjaar het Murraysburg vir die 9de keer ons jaarlikse Damesoggend vir Huishulpe aangebied. Dertig gaste en 7 VLV lede het die oggend bygewoon. Renée Swanepoel het die opening waargeneem waarna die gaste vir ons die koortjie “Die liefde van Jesus is wonderbaar” gesing het. Almal het entoesiasties meegedoen!

 

Renée verduidelik aan die dames wat SASSA toelaes is en waar die geld daarvoor vandaan kom. As jy besef dat die staat geen geld het nie en dat die SASSA geld eintlik jou eie geld is, is jy meer geneë om toe te sien dat bv. geboue en biblioteekboeke nie gevandaliseer word nie.

 

Kaptein Tiaan van Zyl van die Veediefstaleenheid op Beaufort-Wes, verduidelik aan die teenwoordiges dat dit moontlik is om inligting aan die SAPS deur te gee, sonder dat jou naam ooit bekend gemaak word. Jy word slegs as ’n nommer geregistreer. As jy ’n betroubare beriggewer is wat inligting deurgee wat tot arrestasies en suksesvolle vervolging lei, word jy selfs daarvoor vergoed. Hy lê klem daarop dat elke lid van die publiek ’n plig het om inligting van misdaad en misdadigers aan die SAPS deur te gee om toe te sien dat ons en ons kinders vreesloos en veilig in ons dorpe kan woon.

 

Elana Grobler demonstreer hoe die pragtigste rosies van karton eierboksies gemaak kan word. Dit kan gebruik word om bv. geskenksakkies te versier of dit kan op sosatiestokkies gesit word en saam met loof in ’n blompot gebruik word om ’n vaal hoekie op te kikker! Sy demonstreer ook vir die mammas hoe om ’n lekker harde bal van ou papier, ’n plastiek inkopiesak en ’n lemoensakkie te maak. Die balle is so suksesvol, want hulle kan nie deur skerp takkies of dorings stukkend gesteek word nie en kan selfs bons!

 

Renée Swanepoel het vir elke teenwoordige ’n sterk en praktiese inkopiesak van herwinde hondekossakke gemaak. Sy demonstreer aan die dames hoe om sulke sakke goedkoop en sterk te maak. Elke gas het ook ’n geskenk ontvang. Hul nommers is getrek en elkeen kon self haar geskenk uitkies.

 

Theresa Troskie demonstreer hoe om vinnig en goedkoop heerlike viskoekies te maak van 1 blikkie tamatie sardiens, 1 groot aartappel – gekook en fyngedruk, ’n gekapte ui, ’n eier, ’n bietjie meel en bakpoeier en kookolie. Die dames kon na die vergadering hieraan knibbel.

 

Soos altyd, stel ons spreker, Susanna van der Merwe nie teleur nie! Die dames het aan haar lippe gehang! Sy gebruik Antoinette Pienaar se storie oor houtmaak as basis vir haar praatjie-cum-dramatisering om aan die dames die onderwerp van “Vriendskap en ondersteuning tussen vroue kos niks” tuis te bring.

 

Sy demonstreer hoedat ’n mens jou gemoed kan verander … ’n swaar, ongelukkige gemoed maak jou lewe net nog moeiliker. Om iemand anders te ondersteun of te help, verlig jou gemoed en verryk jou. Sy vergelyk ’n stadion van die afgelope Olimpiese Spele met die Karoo met sy sterreprag waar ons woon. Soos wat deelnemers by die Spele toegejuig is in die stadions, net so kan ons in die aand uitgaan en die sonsondergang gaan geniet en kyk hoe die Karoo se sterreprag vir ons handeklap! Elke ster is soos ’n goue medalje en ons elkeen wat iemand anders help en ondersteun, is die wenner van so ’n goue medalje. Vat hom en sit hom teen jou bors.