Sirkel: Weskus

Tak: St Helenabaai

Portefeulje: Opvoeding

Beriggewer: Wilna Marx

Fotograaf: Elmarie Visser

Datum: 10 September 2024

Hier in St Helenabaai leer ons wat ons nie weet nie!

Die woorde “ ’n Mens is nooit te oud om te leer nie” was spreekwoordelik van ons heerlike oggend. ‘n Opvreetbare voordrag deur Mahogony ‘n Graad 1 leerder van E.J. Malgarte Primêre Skool. Daarna hang ons aan die lippe van Elton J Lesch, ‘n boorling van St Helenabaai.

Elton is ‘n digter, skilder en toneelspeler, of eintlik ‘n skilderdigterspeler, gebore en getoë hier in ons klein dorpie. Die lewe het hom op swerfpaaie geneem vertel hy, maar soos hy sê: “Ek moes gehoor gee aan my grootwordplek om my kultuur te kom red.”

Hy deel met ons sy grootwordjare, van Kootjie Bester se trok wat die vissers kom haal vir die dag se uitgaan op die see. Daarna, van kind tot ouma wat die see vir die hele dag dophou, en wonder of die see ons manne gaan teruggee vanaand. Hy vertel van hoe hy skelm na die regte, egte slaghuis toe stap, die slaghuis met die sifdeur, om “vaalgarlic” te gaan koop. ‘n Lang vaal knoffelpolonie waaraan hy kon smul.

Elton deel met ons die volgende woordskatte, eie hier aan die volksmond.

Bakkie: Klein vissersboot

Toboets: Waterskoene of “Wellies” soos vandag se kinders praat

Klasfiver: Wat eintlik glasvesel is

Joppel: Die deining van die seewater

Jorre-pean: ‘n Woord van sy ouma wat eintlik “European” is.

Manyjig: Die bestuurder (Manager)

Langana: Die viskopers van Kaapstad wat in die ou dae snoek hier kom koop het.

 

Hy deel baie stories, van hoe ‘n uitstappie Vredenburg toe hier vanaf St Helenabaai in sy kindertyd, drie dae geneem het. Een hele dag saam met Oom Skudkoppie al die pad op die grondpad met die bus. Een dag vir inkopies en op die derde dag weer skud-skud huistoe.

Die vissersmense sê hy, glo die see is ‘n vrou. Toe vra hy eendag vir sy oupa hoekom. “Ai my kind, weet jy dan nie,” kom die antwoord “die see verander mos sommer net so!”

Sy diepe anker in God loop saam deur sy woorde. “Op jou twee kniekoppe moet jy kniel as jy bid!”

Noudat Elton J hier uitstap met sy esel en skilderye onder die arm gaan ‘n gevoel van groot dankbaarheid deur ons. Dankbaar dat Elton hom weer kom tuismaak het hier in ons baai. Besoek hom gerus by “Gasvier Kunsgallery en Teater” by die bekende Palms Lifestyle Centre hier in St Helenabaai. Kom koop een van sy skilderye, of liewer een van sy stories op ‘n doek. Kom kry ‘n ‘proetjie’ van onse kultuur hier in onse baai.

Elna Louw, wat voorloop in die opvoedingsgroep deel met ons die koskeuse van die dag. Kos, eie hier aan die Kaap. Heerboonboontjiesop met heerbone wat net hier in die Sandveld groei en ook gereeld na Koningin Elizabeth in Engeland gestuur is nadat sy dit hier geëet het. Melktert wat in die Romeinse tyd al ontstaan het en in die 1600’s saam met die Hollanders in die Kaap aangekom het,

“Koesisters”, van Maleis/Indoniesiese oorsprong. Ontstaan met die afvaldeeg nadat die huisvrou koeksisters gebak het. Die slawe het die afvaldeeg huis toe geneem en daar is koesisters gebore, deeg met stropie in klapper gerol. Dan ook kerrievis. Lady Ann Barnard het al in 1798 dit op Meerlust geniet. Maleise slawe het dit gemaak tydens hulle Paasfeesvieringe.

Ons dag was vol opvoeding, geskiedenis gesien, gehoor en geëet. ‘n Dag wat nog lank in die onthou sal luier, ‘n dag wat ons na ons penne laat gryp het:

Al is ons nou nie jorripean,

en dra ons toboets in die reën.

Kyk ons na die joppels op die see.

En weet – net hier wil ons bly.

Dis onse plek die

(Elna Louw)

 

 

Elton J Lesch se eie woorde

Van Elton se kunswerke

Sonia Rawlonsin bedank Elton

Ons lede wat saamgekuier het

Mooiheid om ons

Eetgoed wat ons nie net voed, maar ook opgevoed het