Sirkel: Tygerberg
Tak: Brackenfell Varings
Datum van Vergadering: 5 September 2024
VLV BRACKENFELL VARINGS DRINK DEFTIG TEE
Die Leefstylvergadering van die VLV Varing-tak was ‘n aangename geleentheid toe die dames elkeen ‘n kolwyntjie gekry het om te versier – dit was die “soet” wat hulle later saam met hul tee geniet het. Die versoek was dat jy daardie pragtige porselein wat jy vir “eendag” bêre, sal uithaal en op ‘n plekmatjie ‘n teetafel sal dek. Pragtige skeppings, van kolwyntjies én teetafels, het verskyn. Voorsitter, Riana Ellis, het ‘n plekkie gedek met ‘n koppie wat sy jare gelede in haar handbagasie uit Nieu-Zeeland saamgebring het. Daar was Noritake, Royal Albert, Continental China, koppie- en piering stelletjies om maar ‘n paar te noem. Die mooiste “plekmatjies” in VLV-styl en selfs kersliggies is gebruik. Die kreatiwiteit van die dames het mens verstom. Gasvroue Elsebé Swart, met hulp van Sheila Burger, was verantwoordelik vir hierdie puik vergadering. VLV Brackenfell Varings vergader elke eerste Donderdagoggend van die maand in Die Ark by NGK Brackenfell-Wes. Nuwe lede en belangstellendes is altyd welkom om by ons aan te sluit.
Voorsitter, Riana Ellis het terugvoer gegee oor die VLVK Kongres
Gasvroue, vlnr Sheila Burger, Elsebé Swart en lid Susan de Villiers
Die tee is reg!
Elsa Groenewald met haar kolwyntjie
Koppie en pieringstelletjie
Riana Ellis se spesiale teestelletjie
Leave A Comment