Tak: Aberdeen

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur en Leefstyl

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 28 Augustus 2024

Aberdeen VLV Pannekoek Kuierdag vir Aalwynhof

 

 

Vroeg op dié ysige Woensdagoggend is die gewoonlik rustige Aalwynhof Ouetehuis sitkamer in rep en roer. Aberdeen VLV se vroue woel en werskaf om alles op te stel vir die Pannekoek Kuierdag – tafels, gasbottels, stofies, emmers pannekoekdeeg en panne word aangery en ingedra.

Voor 08:00 word daar reeds fluks gebak, gerol en verpak. Bestellings is vooraf geplaas vir ‘n opsie van kaneelsuiker of melktertvulsel pannekoeke en alles word sorgvuldig verpak. Groot bestellings word afgelewer en die ander word afgehaal.

 

10 Stofies word op ‘n ry beman om pannekoek te bak

Karen van Rensburg (links) en Karin Pienaar strooi kaneelsuiker en rol pannekoeke

Heidi Lombard (links) vul pannekoeke met melktertvulsel en Engela James hanteer die bestellings en betalings

Carina Esterhuizen (voor), Petro Marx en Lize de Jager

 

Dis ‘n heerlike dag vir die inwoners, aangesien hulle in die sitkamer kan sit en kuier terwyl die VLV-vroue vrolik werk, gesels en lag. Elke inwoner en personeellid word teetyd met ‘n gratis pannekoek bederf. Voorsitter Lea van der Vyver vertel die inwoners dat die dag ‘n fondsinsameling vir Aalwynhof is en herinner hulle dat God altyd naby is in tye wat hulle alleen voel – hulle moet net met Hom praat en vra om by hulle te wees. Clarissa Lategan bekoor inwoners met haar pragtige stem deur ‘n paar liedjies te sing.

 

Clarissa Lategan sing tydens teetyd vir die inwoners

Inwoners smul aan die heerlike pannekoek

 

Daar is meer as 600 pannekoeke gebak en alle bestanddele en verpakking is deur VLV vroue geskenk. Verkope van die dag beloop R4578, met ekstra kontant donasies van R809. Aberdeen VLV-tak voeg R1113 by en ‘n totaal van R6500 word aan Aalwynhof oorbetaal.