Sirkel: Namakwaland

 

Tak: Vredendal

 

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

 

Saamroeper: Sarlene Coetzee

 

Beriggewer: Riana Wilhelm

 

Datum: 22 Augustus 2024

 

Vredendal kry kykie in siggestremdewêreld

Van links na regs (voor) – Ansa Geldenhuys, Sarlene Coetzee en Aletta Esterhuizen

 

 

 

 

Op Donderdag 22 Augustus 2024 het die dames van VLV Vredendal – Sirkel Namakwaland ‘n kykie gekry in die wêreld van siggestremdes, ‘n baie interessante en leersame oggend. Nie net het ons geleer om dankbaar te wees en ons seëninge te tel nie, ons het ook geleer dat jy tot baie meer in staat is as wat jy dink jy kan vermag. Elmarie Fouché open die vergadering waarna Ansa Geldenhuys ons bedien met skriflesing uit haar Braille Bybel. Haar vingers sweef behoorlik oor die bladsye soos sy lees. Sarlene Coetzee stel daarna ons gassprekers voor. Ansa Geldenhuys en Aletta Esterhuizen is twee welbekende gesigte in Vredendal. Hulle mag dalk siggestremd wees, maar hulle hande staan letterlik vir niks verkeerd nie en beide van hulle het ‘n fyn, aansteeklike humorsin. Hulle vertel hoe hulle alreeds ‘n paar stukkies grond “gekoop” het in Vredendal en hoe die een die ander dan vra, wanneer hulle val, “nou waarheen is jy nou op pad?”. Hul handewerk is absoluut indrukwekkend. Nie al ons lede kan brei nie, maar as daar so gekyk word na die truie wat deur Ansa en Aletta se vlytige hande voortgebring word, dan kan mens net wonder of ‘n verskoning nie soms makliker is as om te probeer nie (skrywer staan self skuldig hier). Siggestremdes laat geen struikelblok in hulle pad staan nie. Hulle lees en luister met baie interessante (ongelukkig duur) hulpmiddels, speel bordspeletjies soos “Scrabble”, kan ‘n “Rubik cube” oplos met gemak en briefies vir ons skryf wat ons sukkel om te ontsyfer. Beslis nie ‘n saai en vervelige bestaan nie. Hierdie twee dames het ook hulle kant gebring op die werksfront. Aletta het maatskaplik gestudeer by Hugenote Kollege in Wellington en nadat sy haar opleiding voltooi het, het sy by verskeie kinderhuise gewerk. Ansa was in Pionierskool, Worcester. Na skool kry sy skakelbord opleiding om as telefoniste te werk by Grootte Schuur Hospitaal in Kaapstad. Sy trek terug na Vredendal en raak betrokke by die Olifantsrivier Vereniging vir persone met gestremdhede en kry daarna die pos as skakelbord-operatrise by Vredendal Hospitaal. Hulle moes ook maar soos elke ander werkende op ‘n stadium aftree, maar al is hulle nou deel van die “pensioen-klub” sit hulle beslis nie net heeldag in die son met hulle hande gevou nie. Ons tyd saam met hulle was hopeloos te kort, daar is nog so baie wat ons by hierdie twee veelsydige vroue kan leer. Die dames van Opvoeding en Kultuur het nog ‘n paar hase uit die hoed gehaal tydens die vergadering. Lede en gaste is onder andere gevra om ‘n kinderfoto van hulself saam te bring en daar is gewonder en geraai wie by watter foto pas. Die mooiste kindergesiggies het ontpop in pragtige volwasse vroue. Daar is weer gedeel in lief en leed en ons was dankbaar dat Anita du Toit weer op die been kon wees om as verjaarsdagvrou van die maand die dag met ons te kon deel. Sarlene Coetzee was die gelukkige wenner van die woekermandjie vol verrassings. Baie geluk aan elke inskrywing wat deurgegaan het na die 94ste VLV Kongres wat plaasgevind het op die 15de en 16de Augustus te Kaapstad. Ons het goeie punte huis toe gebring en in ons oë is elkeen ‘n wenner, julle maak ons trots. Die vergadering word afgesluit en die dames kuier heerlik saam om ‘n koppie tee en die lekkerste vetkoek (soet en sout) en muffins voorgesit deur Rita Eitner, Adéle de Vries, Rita Burger en Olga Erasmus. Dit was ‘n heerlike samekoms en ons sien al baie uit na ons lente vergadering in September. Ons bedank weereens al ons lede vir hulle oop hande en harte vir die honger diere in ons omgewing. Dit word ongelooflik baie waardeer. Ons kyk, maar ons sien nie. Ons luister, maar ons hoor nie. Mag ons oë en ore oop wees vir al die mooi asook die nood in ons midde hier in ons mooiste mooi Namakwaland en mag ons altyd dankbaar wees vir dit wat ons toegedeel is.