Sirkel: SWD

Tak: Sedgefield

Portefeulje: Opvoeding

Saamroeper: Miemie De Lange

Beriggewer: Carin Van Niekerk

Datumvanvergadering: 21 Augustus 2024

Unieke mosaïektonnel laat geskiedenis herleef

 

Die dames van Sedgefield VLV het Woensdag 21 Augustus 2024 ‘n uitstappie na die mensgemaakte betontonnel van 55 m op die Pinnacle Point Landgoed in Mossselbaai onderneem. Hierdie tonnel, onder die 18de setperk van die gholfbaan, het die afgelope twee jaar ‘n gedaanteverwisseling ondergaan en is in 2022 deur die Burgemeester van Mosselbaai, mnr. Dirk Kotze, geopen. Hy het in Junie 2023 die laaste teëltjie op die muur geplaas wat die eerste helfte van die tonnel voltooi het. Hy het dit genoem dat hy hoop om die heel laaste teëltjie van die voltooide projek ook te plaas.

Die eens bergplek vir die gholfkarretjies is omskep in ‘n mosaïekkunswerk. Dit bestaan uit 46 aaneenlopende panele wat elk 1.2mm wyd en 2,3m hoog is. Na twee jaar is die mure se kunswerk afgehandel en is hulle tans besig met die dak. Hulle wil ook later die vloer aanpak. As die projek afgehandel is, sal dit die langste mosaïektonnel in die Suidelike halfrond met 84 panele wees. Dan wil hulle aansoek doen om dit amptelik as ‘n Guiness wêreldrekord te laat registreer.

Die tonnelprojek is die inisiatief van die kunstenaar Chrissie Olivier en Amos en Annemie van der Merwe. Miljoene teëltjies is op die voltooide panele aangebring. Chrissie teken die ontwerpe op die mure en dan werk daar tans vier mans en nege vroue vrywillig aan die projek. Hierdie vrywilligers se ouderdomme wissel van 54 tot 80 jaar oud. By geleentheid kom ook die jonger geslag handjie bysit. Die teëls word een vir een geknip, gegom en teen die muur geplak. Die tonnel se dak is die moeilikste deel van die projek. Omdat hulle as’t ware koponderstebo op stellasies sal moet staan, het hulle besluit om op tafels te werk. Hulle plak die teëls eers op gaas, sny dit dan in hanteerbare dele, draai dit om, gom en plak dit dan teen die dak. Willem Naudé doen die invoegwerk en maak die teëls skoon, Borgskappe het begin instroom toe mense tot die besef gekom het van die erns van die projek. Hierdie borgskappe betaal steeds vir die teëls, gom en teëlssement. Ons was bevoorreg om tydens ons besoek daar vir Chrissie, ‘n paar vrywilligers en Willem (alias die Tonnel Rotte) te ontmoet waar hulle besig was met hierde liefdestaak. Chrissie hoop dat ‘n besoek aan hierdie tonnel mense sal inspireer om soortgelyke projekte in hulle eie dorpe te begin. Ons dames kan met hierdie projek en droom van Chrissie identifiseer, aangesien daar ook pragtige mosaïekkunswerk Sedgefield, Buffelsbaai en Brenton on Sea verfraai.

Die mosaïekpanele vertel ‘n storie. Teen die linkerkant word 260 miljoen jaar se geskiedenis en die omgewing se erfenis uitgebeeld: onder andere die vastelande wat geskei het, proteas en fynbos, voëls, die berge, die grotbewoners van die Middel-Steentydperk, die Portuguese seevaarders, volstruis-en ander boerderye, ‘n geelhoutboom in Tsitsikama, hedendaagse Mosselbaai en gholfspelers. Laastens is die uitbeelding van die demokratiese era met Nelson Mandela en die landsvlag. Die regterkant beeld seetonele uit: die strande, skulpe en branders, sowel as die diepte van die oseaan met o.a. ‘n kleurryke koraalrif, walvisse, haaie, robbe en dolfyne. Van hierdie seediere het selfs name: Hank en Barbie die seekatte, Mannie en Ma Rissa die robbe, Pete die skaam paling en Huberta die seekoei, Vir die wat van ‘n skattejag hou, kan gerus na die versteekte Nemo’s op die panele soek. ‘n Paar dames het hierdie soektog baie geniet. Die tonnel lei na ‘n staproete tot by die Pinnacle Point grotte wat pas tot Wêrelderfenisgebied verklaar is.