Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Saamroeper: Ronel Laubscher

Beriggewer: Ronel Laubscher

Datum: 20 Augustus 2024

 

VLV VOËLVLEI SE LEDE PRAAT REGUIT OOR FINANSIES

 

Die dames van VLV Voëlvlei het ‘n propvol maandelikse byeenkoms op Dinsdag, 20 Augustus 2024, in die Vleesbaai kerksaal gehou.

Louisa Smit het vir ons ‘n geleentheidskalender van die omgewing aangebied, Linzetta Smit het tong in die kies vir ons meegedeel oor vetsug by troeteldiere en hoe dit hul gesondheid beïnvloed en laastens het Carina Holtzhauzen vir ons baie interessante inligting gegee rondom bloeddruk.

Anna-Marie van der Merwe en Andrieshia Radyn het terugvoer gegee oor die baie suksesvolle 94ste Kongres van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland, aangebied deur Sirkel Tygerberg. Die Dankie-Persoon by die geleentheid was Minke van Rensburg, ‘n downsindroom swem ster van George wat 12 downsindroom wêreldrekords agter haar naam kan skryf. Haar pa, Hennie, deel met die kongresgangers die bewondering wat hy vir Minke se vasberadenheid en dissipline het wanneer sy oefen. Haar verhaal het almal geïnspireer en aangeraak.

Daarna het ons gasspreker, Johan Lochner, Portfolio Bestuurder van PSG, die dames op ‘n ligter trant meegedeel waarom beplanning vir aftrede so belangrik is. Hy het ook verduidelik hoe inflasie die afgelope tien jaar ons lewenskwaliteit beïnvloed het. Die groot vraag was: “Sal jy kan braai?” oor tien jaar!! Hy het verduidelik dat ‘n mens se lewensverwagting wel langer is as vroeër jare, en dat jou aftrede-geld jou beslis nou langer moet hou.

Johan het ook ‘n baie belangrike kwessie aangespreek, naamlik dat elke vrou wel van haar man se sake kennis moet dra.

Die vergadering is afgesluit met verkiesing van ‘n nuwe voorsitter en drie nuwe bestuurslede. Andrieshia Radyn is ons nuwe Voorsitter, Sandra Nolte, Elmarie Neetling en Carina Holtzhausen is die ander drie nuwe bestuurslede.

Die knap gasvroue het weer gesorg vir heerlike eetgoed vir na die tyd se saamkuier.

 

Johan Lochner van PSG saam met Ronel Laubscher, Saamroeper van Opvoeding en Kultuur

Andrieshia Radyn, nuwe Voorsitter van Voëlvlei