Sirkel: Overberg
Verslag: Kongres 2024
Beriggewer: Diana Odendaal
Datum: 15 en 16 Augustus 2024
Kongres 2024 -Wat ‘n Ongelooflike Voorreg!
Wat ‘n ongelooflike voorreg om kongres 2024 te kon bywoon. Vandat ons vriendelik ontvang is by registrasie, totdat ons verdaag het die Vrydag, was dit ‘n interessante, goed beplande ge-oliede ratkas wat ons van die een aktiwiteit en spreker na die volgende geneem het.
Met ‘n vrou in elke geur en kleur, stap ons die nuwe jaar in en sien reikhalsend uit na al die nuwe kompetisies en motivering wat op ons wag. Volgens Misi Overturf gee kleur lig in ons koppe en kan ons met orde in ons lewens en huise ook orde in ons koppe skep. Jou direkte omgewing het ‘n direkte uitwerking op jou psige en daar is hoop as jou lewe georden is. Ons is wat ons sien; dus moet ons sorg dat ons omgewing mooi is.
Dr. Trautman vertel ons interessante feite oor aardverwarming, die vermindering van kweekhuisgasse en deel die Green Shelters van Dubai,asook Barcelona met ons. Sy sê ons moet reduce, reuse, repair en recycle – o.a. minder klere koop en hulle langer dra. Ons is nou in die ‘slow fashion’ fase waarin tweedehandse klere ‘n groot rol speel. ‘n Ontstellende feit is dat ‘n derde van die wêreld se kos vermors word. Ons moet slimmer koop en beplan in die kombuis.
Rian Truter, ‘n afgetrede skoolhoof, neem ons op ‘n humoristiese dog insiggewende reis met sy tema “Ontsmokkel jou kop!!” Hy sê ons het nooit geleer om buite die boks te dink nie, want ons moes tussen die lyne inkleur.
Ons moet wegkom van die klakouse, want hulle trek ons af. Ons moet meer kreatief planne maak en seker maak dat ons koppe op ‘n goeie plek is. Hy sê ook as jou werk nie ‘n roeping is nie, moet jy iets anders soek om te doen. As jy ‘n storm nader, gaan onmiddellik na die middel daarvan. Dan is jy amper daar deur. Wees die vonk in die pakkie – en drink elke dag ‘n halwe bottel wyn, maar dit moet die onderste helfte wees!
Mari Hudson van RSG deel met ons ontstellende feite oor die NGV en maak ons benoud oor die toekoms. Sy deel ook inligting oor die feit dat te veel skermtyd jou dopamine verminder en jy dus meer neig na kosse en sjokolade.
Daar word hulde gebring aan Minke Janse van Rensburg, ‘n 17-jarige Down-sindroomswemmer wat baie medaljes al gewen het. Ons luister na ‘n fluitspeler en die SA Jeugkoor.
Prof. Abel Esterhuyse, professor in Krygskunde, verstom ons met sy kennis oor Suid-Afrika en ander lande en die toekoms.
Hierdie is maar ‘n paar hoogtepunte en dit is moeilik om in ‘n berig hulde te bring aan die ongelooflike baie inligting en interessanthede wat ons kon aanhoor. Ons kan net vasklou aan hierdie aanhaling:
”Don’t live your life by accident
Live your life ‘ aspris’ ”.
Dit was ‘n voorreg om by die gala-aand onthaal te word en as deel van Overberg ook te deel in die pryswennersglorie!
Groot waardering.