SIRKEL: KALAHARI
TAK: VRYBURG
DATUM: 15 AUGUSTUS 2024
TEMA: VLVK KONGRES
BERIGGEWERS: NELLIE VILJOEN & CARIEN VAN NIEKERK
VRYBURG PRESTEER BY KONGRES
Vryburg VLV het goed presteer by die onlangse kongres van VLVK wat in Bellville aangebied is.
Die tak behaal die tweede plek uit 127 takke in die afdeling Kunste en Handvlyt en word beloon met die Kallie Liebenberg-trofee vir die Positiewe bydrae van ‘n tak tot die beeld van VLVK in hul gemeenskap. Meer oor Vryburg-tak se projekte onderaan.
Carien van Niekerk (afgevaardigde) en Erika Linde (beoordelaar) het kongres bygewoon.
Carien van Niekerk ontvang trofee van Erika Lubbe.
Marietjie Steyn ontvang sertifikate vir borduurwerk en laslapkwilt.
GEMEENSKAPSBETROKKENHEID
SIRKEL: KALAHARI
TAK: VRYBURG
TEMA VAN VLVK: ONS JEUG, ONS TOEKOMS
PROJEK VLVK: BEVORDER ‘N LIEFDE VIR DIE NATUUR EN DIERE
PROJEK SIRKEL KALAHARI: GEE WAT IN JOU HAND IS
INLEIDING
As die enigste tak in VLV Kaapland wat nie in Kaapland is nie, is Vryburg VLV ‘n unieke tak. In 2023/2024 het die tak gestreef om ‘n verskil te maak.
Die VLVK se tema en projek was vir die tak heerlik. Elke lid het dit geniet om by die jeug te kuier en hul in te lig en ook om vaardighede aan hulle oor te dra.
Kalahari Sirkel se jaarprojek was “Gee wat in jou hand is” en hierdeur kon bewys word dat ‘n klein tak met 17 lede wel vaardighede, tyd en entoesiasme het as bate.
Met VLV het ons besef dat tyd ‘n groot kommoditeit en ‘n kosbare hulpbron is. Deur net te sit by kinders en stories te lees, is verrykend vir almal. Herwinning is altyd ‘n prioriteit vir VLV vrouens en van verskeie projekte is gebaseer op die hergebruik van herwonne items. Herwin, geskep, herlewe …
ONS JEUG, ONS TOEKOMS
*SPEELGOED VIR KLEINGOED. Hierdie projek het meer as ‘n jaar gelede begin deur herwonne artikels te gebruik om opvoedkundige speelgoed te maak vir 1 tot 5-jariges. Die hoogtepunt wat dat daar voor Kersfees 111 pakkies afgelaai kon word in Colridge. Hierdie artikels sluit in: Troospoppies, inkleurboeke, skryfstelle, 123 houers met proppies wat gebruik word vir sorteer en tel asook speelgoed met tennisballe en plastiese houers. Plaaskinders van lede is ook bereik met 14 stelle. By met elke pakkie was ‘n pamflet aan die oppasser of mamma met die mylpale vir 1 tot 5-jariges asook speelgoed en speletjies wat gepas is vir die ouderdom.
*YVONNE SE DOGTERTJIE PROJEK: Hierdie dame hou dogtertjies in die middae en in die vakansies besig met aktiwiteite en projekte. Boeke, lap en speelgoed is ingesamel en na haar geneem. Tradisionele houttolletjies is gemaak asook tolletjies gemaak van toiletpapierrolletjies vir tolletjiebrei saam met wol. Krale is ingesamel vir haar engeltjieprojek.
*TROOSPOPPIES is gemaak vir die kerspakkies van Caritas (90) asook ‘n gesin met pa, ma, boetie, sussie, oupa en ouma vir traumaberading. Hierdie poppies word deurlopend gebrei met oorskietwol en dan verspei waar troos nodig is.
*HAASBEKKIES is ‘n vroeë kinderontwikkelingsentrum vir nie-betalende ouers. Jaarliks word daar net voor die winter vir hul (20 stelle) mussies en moffies gebrei en in 2024 is 123 houers met proppies gemaak en rympies is geleer. Die groepie sing dan altyd Christelike liedjies, so oulik.
*MENTORSKAP met CVO skool Gr 10-12. ‘n Projek is gedoen met die GSF van die CVO skool met inkleurboeke en 123 houers en daardeur is ‘n behoefte geïdentifiseer om die senior grade (10 – 12) te help met bekostig- en bereikbare gemeenskapsprojekte. Verskeie opsies is aan hul deurgegee en mentorskap sal gegee word soos nodig.
*LEEN MY JOU BEURSIE – Hierdie projek was klein begin, groot gewin. Meisies in die hoërskool verloor 2 tot 3 dae per maand tydens hul maandstonde vanweë die gebrek aan sanitêre doekies. Die tak het aanvanklik besluit om net vir Gr 8 meisies in Colridge HS sakkies te maak, brei of hekel vir die doekies in hul tasse. Daarmee saam is doekies ingesamel wat aangekoop word by Shoprite @ R5 vir 8 doekies.
Voor die projek klaar was, was reeds 822 sakkies gemaak en gevul met ‘n doekie. Hiermee het die tak ook besluit om met die dogters te praat oor die planne wat hul kan maak om nie skool te mis nie, deur bv doekies, tampons, menstruele koppies en herbruikbare materiaaldoekies. Elke sakkie was uniek en die meisiekinders is ons toekoms. Daar is ook meer as 102 pakkies doekies aan die skole verskaf om uit te gee in geval van nood.
KWEEK ‘N LIEFDE VIR DIE NATUUR EN VIR DIERE
*HERWINNING van plastiek en blik. Hierdie is ‘n deurlopende projek van die tak. Met maandelikse vergaderings is daar demonstrasies gedoen vir die maak van blomme en voëltjievoerders uit plastiek. Houers en proppies word gebruik vir die maak van speelgoed.
*VOORLEES – Een lid is onderwyser vir Gr 11 Afrikaans EAT en het spesiaal ‘n leesstuk gedoen oor die bure se honde binne die tema.
*HUUR ‘ N HASIE PROJEK – Aanbieding by kleuterskool oor versorging van troetel-diere. Hasies, hamsters en krimpvarkies word geleen by dierewinkel om te wys. Hierdie projek was baie gewild en die kinders was gefassineer deur die krimpvarkies.
*BYENUUS – Een lid is ‘n ywerige skrywer en het grootgeword in ‘n byeboerhuis. Sy skryf ‘n insiggewende artikel oor heuningbye wat geplaas is in die Afripulse publikasie in Noordwes.
*NALEDI SKUILING – Doen insameling, bak hondebeskuitjies en maak hondejassies vir plaaslike diereskuiling so voor die winter saam met skenkings van komberse, honde- en katkos. Die honde het die hondebeskuitjies baie geniet, was ‘n groot bederf.
*STEGGIES – Lede kweek steggies van blom- asook lekkerruikmalvas vir inwoners van die MdP Dienssentrum. 94 steggies word geplant in versierde blikkies en houers, ‘n stokkieboodskap en uitgedeel.
*INKLEURKOMPETISIE – Om soveel moontlik kinders te bereik, het Vryburg tak ‘n inkleurkompetisie uitgereik in die plaaslike koerant. Baie inskrywings is ontvang en daar is wenners gekies in die kategorie gr R, gr 1-3 en Gr 4-6. Die kinders het dit baie geniet. Hierdie projek het die tak ‘n voorblad besorg.
SIRKEL PROJEK: GEE WAT IN JOU HAND IS
*STREETRACERS is ‘n oulike projek van Ammiel (‘n onderwyser by LS Vryburg). Hy het ‘n landloop-groep in Colridge. Hy is so suksesvol dat hy 5 kinders na die landloop SA’s kon neem en 3 plekke gekry. Die VLV tak berei etes voor en gaan help dan in die middag by die oefensessie. Was daar in Aug, Nov, Feb en April 2024 40 kinders. Hierdie kinders deel ook met ons hul Christelike liedjies en musiek wat hul maak op tuisgemaakte instrumente. Toiletwaresakkies is gemaak en gevul vir Kersfees vir elke kind (40x).
*TEETYD by Dienssentrum is ‘n hoogtepunt. In afwagting wag sowat 60 inwoners en personeel om te sien wat die VLV kan opdis (het nogal ‘n reputasie om te handhaaf). Tee is gegee Augustus 2023 en April 2024.
*PREM MUSSIES – Joe Morolong staatshospitaal en Beanies4Premies in Klerksdorp se staatshospitale projek verskaf mussies en sokkies aan premature babas in die staatshospitale. Dis piepklein om te brei maar het oor die jaar periode 120 stelle afgegee.
*CHOC20 PROJEK – Die CHOC huis in Bloemfontein gee huisvesting aan ouers wie se kinders kankerbehandeling in Bloemfontein moet ontvang. Hierdie huis bedien Vrystaat en die Kalahari. ‘n Gesprek met ‘n dogter wat behandeling ontvang en haar dankbaarheid dat haar gesin by haar kan wees en huisvesting en etes ontvang, het ons diep geraak. Volgens Sanet van Zyl, die bestuurder, is daar ‘n behoefte vir verskeie items vir die huis en vir pakkies vir die kinders.
Die tak het besluit om ons projek CHOC20 te noem en 20 items van ‘n soort te maak, inkleurboeke en potlode, notaboekies, mussies en sokkies, tissuesakkies, slaapsokkies, waslap en sepie asook pennesakkies. Hierdie projek was ‘n fees om te doen.
*GEE WAT IN JOU HAND IS. Verskeie projekte is geloods om items in te samel en te herversprei weens die feit dat verskeie lede en vriende na kleiner huise verhuis het en heelwat bruikbare items beskikbaar kom vir verspreiding, soos resepteboeke, klere, linne, kussings, komberse, breekware, boeke en Bybels. Ook kinderklere is ingesamel vir Yvonne in Colridge en klere vir die aftreeoord in Amalia. Selfhelpboeke aan Colridge se gemeente se boekestasie geskenk asook naaldwerkbenodigdhede aan verskeie instansies in Vryburg (patrone, knope, linte, materiaal, ritse). ‘n Besondere stel lêers met naaldwerkriglyne is geskenk aan lid van Kuruman VLV wat ‘n staatsgedrewe indiensnemingsprojek doen.
*SoS PROJEK – Sorg Ons Seniors: Toiletware word ingesamel vir noodkas by MdP dienssentrum. Meer as R3000 se waarde word ingesamel.
*KOOK EN GENIET – Universiteit van Pretoria doen navorsing oor die gebruik van Kook en Geniet boek. Tak stuur 10 stelle foto’s en stories in oor hul eie of ma of ouma se Kook en Geniet. Ook spesiale resep daaruit.
*5VIR5 – Kruideniersware word in veelvoude van 5 ingesamel vir die kombuis van die Dienssentrum. Dit word ‘n speelse uitdaging tussen die plaasvroue om 5 sakke lemoene te troef met 10 sakke aartappels. Hierdie items word met dankbaarheid aanvaar en die spyskaart word aangepas om alle items en groente soos ontvang, te gebruik. Oorvloed word ingelê of gebottel vir hul basaar of gevries vir latere gebruik.
Hierdie tak het regtig uitstaande diens gelewer aan die gemeenskap en het die sigbaarheid van die VLV aansienlik verhoog. Daar word met lof verwys na die VLV en gemeenskapslede stel intens belang in die doen en late van die organisasie. Daar is ook gereeld geleenthede waar die vaardighede van die VLV aangebied en oorgedra word aan vroue en die jeug.
Leave A Comment