Sirkel: Weskus

Tak: St Helenabaai

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Wilna Marx

Fotograaf: Elmarie Visser

Datum: 13 Augustus 2024

St Helenabaai is plesierig

Met die uitnodiging het ons al geweet hier is iets aan die kom! Die heerlike leersame oggend is deur Annaline de Beer en haar span aangebied. Pragtige dames, met kleurvolle kouse het die saal vrolik ingestap.

Lede wat die afgelope tyd verjaar het word gelukgewens en ontvang elkeen ‘n klein geskenkie.

Hou daai liggaam in vorm! Desirée Gibson, ‘n plaaslike instrukteur van die “Ladies Exercise Group St Helena Bay” was die eerste spreker van die oggend. Desirée deel die belangrikheid van oefening om die liggaam soepel en beweegbaar te hou met ons. Baie van die oefeninge kan voor die televisie, in die motor en sommer so voor die naaimasjien of rekenaar gedoen word. Die dames geniet die in-die-stoel-sit oefeninge. Die vingers skud en die tone tel servette op!

Tweede aan die beurt is Lynn Angel, ‘n Funksionele Genomika-praktisyn. In kort beteken dit: “Funksionele genomika kan die gene en paaie wat betrokke is by die ontwikkeling van siektes identifiseer, en bied dan insig in die onderliggende meganismes van verskeie siektes, soos onder andere kanker, diabetes en neurodegeneratiewe versteurings.

Sy gebruik die beeld van ‘n resep – elkeen van ons se liggaam het sekere bestanddele nodig, nie teveel of te min nie, die regte hoeveelheid om die liggaam gesond te hou. Ons eet, slaap en leefgewoontes speel ‘n baie belangrike rol in ons gesondheid. Sonder genoeg slaap wat diepe slaapsiklusse insluit, sal ons nie uitgerus voel nie. Lynn noem dat die slaapkamer pikdonker moet wees om goeie slaap in te kry. Enige ligte, ook die sg. “blou ligte” van TV’s, selfone en tablette stuur aan die brein die boodskap dat dit dag is en daarom gaan die brein nie in die diepe slaap wat nodig is nie.

Die kos wat ons inneem is ook baie belangrik. Lomerigheid na ete kan aandui dat die liggaam die volgende boodskap stuur: “Ek as liggaam is oorweldig want jy het nounet my vermoë om die kos te verteer beïnvloed. Ek kan nie genoeg ensieme vervaardig om al die kos wat nou geëet is, te verteer nie!”

Ook vertel Lynn wat die invloed van koffie op die liggaam is. Dit neem 8 tot 10 ure vir die liggaam om 50% van die kafeïen in die liggaam te verwerk. So as jy laat in die middag of aand koffie drink en jy gaan slaap sê jou liggaam: “Hokaai, ek het nog werk om te doen, nog kafeïne om te verteer. Sy moedig die dames aan om vir een week geen koffie na twaalf in die dag te drink nie. Die verskil in slaappatrone sal duidelik wees.

Lynn moedig aan om met klein veranderings te begin. Maak huise minder toksies, kyk na nou eet- en slaapgewoontes. Stadig maar seker sal jy die verandering in jou liggaam waarneem.

Nadat ons na die uiters insiggewende praatjies geluister het, word die oggend word afgesluit met ‘n gesellige kuier rondom die tee- en eetgoedtafel.

Met die uitstap besef mens hoe belangrik oefening en ‘n gesonde leefstyl is, vir ‘n gesonde liggaam en gees.

 

Kleurvolle kouse

Verjaarsdagdames

Desirée Gibson

Vingers en tone oefen

Lynn Angel

Smultafels

Gaste