Sirkel: SOK
Tak: Hankey
Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Projek: Bevorder en kweek ‘n liefde vir die natuur en diere
Saamroeper: Estelle Kleinhans
Beriggewer: Catherina Wait
Datum van vergadering: 2 Augustus 2024
Luukse Uilakkommodasie in die Gamtoosvallei
Ons het werklik gesukkel om ‘n idee te kry wat sou voldoen aan die vereistes van die projek en dan ook verder sou gaan as net 2024. Gee ons blommetjies vir die skool se tuin en hou kompetisie om te sien wie se tuintjie die mooiste is na ‘n tyd? Die wintervakansie laat alles verdroog en die ryp doen die res. Vra mens die klasse om blompotte te maak uit afvalmateriaal? Die onderwysers het genoeg om te doen en die kinders sal eenvoudig hul ouers vra om dit te maak. Wat doen ons? Een van ons lede vra toe of ons nie uilkaste kan maak vir die laerskool nie. Uitstekende plan!
Die plaaslike laerskool het ‘n las van vlermuise wat die mure van die skool bemors. Ons tak het, na konsultasie met natuur- en voëlkenners en die personeel van Laerskool Gamtoosvallei, besluit om twee uilkaste vir ooruile of nonnetjies uile te laat bou en installeer.
Die gr. 7-klas het navorsing gedoen oor uile in ons omgewing – Gevlekte ooruile en Nonnetjies uile.
Die gr. 6-klas moes die verskillende uilhokke bestudeer en uitvind watter plekke op die terrein die beste sou wees vir die neste.
Die gr. 5’s moes inligting kry oor die beste nesmateriaal en hoe die neste voorberei kon word vir die uile.
Een van die ouers het met die skool gepraat oor die belang van uile in die natuur. Omdat die kinders toe reeds inligting gehad het, was die belangstelling en meelewing iets om te beleef. Daar is vrae gevra en die inligting wat gedeel is, is gretig ingeneem. Ons hoop dat ons daartoe bygedra het dat uile met minder vrees bejeën word.
Onder leiding van mnr McCabe is die hokke is opgesit en ons wag almal om te kyk watter uilpare ons luukse huisies gaan bewoon.
Die gr.7’s van Laerskool Gamtoosvallei met een van die uilkaste.
Beaulah Verwey (sekretaresse), Catherina Wait (voorsitter van Hankeytak) en Jansie Both, die ouer in beheer van die inligtingsessie.
Die werkers besig om die eerste hok te installeer.
Die hok, gereed vir okkupasie.
Leave A Comment