Tak: Klein-Brakrivier

Sirkel: SWD

Portefeulje: Leefstyl

Saamroeper & beriggewer: Dawn Greyling

Datum: 30 Julie 2024

Klein-Brakrivier hou GRIEKSE FEES

Klein-Brakrivier se Leefstyl-byeenkoms in Griekse styl, word deur Dawn Greyling en haar bekwame span gasvrouens aangebied. Die saal word in blou en wit getooi en is met Griekse beelde, olyftakke en vlae versier. Gaste word verwelkom met ‘n Ouzo en suurlemoendrankie.

Die byeenkoms word op gepaste wyse deur Retha Nagel geopen. Franci Raubenheimer (Voorsitter) verwelkom lede en gaste. Spesiale vermelding word gemaak van Elize Locke (SWD-sirkelpresident) wat ook die byeenkoms bywoon. Franci gee terugvoering oor Klein-Brakrivier se takbedrywighede die afgelope maand:

  • Klein-Brakrivier reik uit na Groot-Brakrivier SAP vir hul goeie werk deurkolwyntjies aan die personeel te gee;
  • ‘n Donasie van vrugtebome vir die Santa Kleuterskool in Wolwedans, Groot-Brakrivier geskenk en lede help ook met die aanplant van die bome en skoonmaak van die omgewing;
  • Skenking van doeke vir behoeftige volwassenes;
  • Daar was ‘n uitstappie na Groot-Brakrivier se museum, waarna tee gedrink word in die Ou Pastorie se teetuin. Hierdie uitstappie is deur Leola Esterhuizen (Opvoeding en Kultuur) gereël.

Die eerste gassprekers van die Griekse dag is was Ronel Grovè (Pilatus instruktrise) wat op n prettige manier die dames wys hoe om oefeninge te doen voor die TV of rekenaar. Onder baie gelag en geknyp van boudspiere word die oefeninge al sittend gedoen.

Die lede se sjokolade kennis word getoets deur ‘n paar vinnige vrae oor sjokolade en die wenner was Retha Nagel wat n sjokolade medalje wen.

Die hoofspreker Leonie Dippenaar (Mind Coach/ Life Coach). Leonie gesels op ‘n gemaklike manier met die dames oor angs, depressie en alleenheid. Die lede word genooi om van hul ervarings te deel. Leonie gee ook sinvolle wenke aan mense wat met bogenoemde sukkel.

Die geluktrekking vind hierna plaas. Gerda Aspeling wen ingelegde slaaie en ‘n handgemaakte slaaibak en Delise Erasmus wen (alweer) ‘n heerlike tert en tee-net.

Engela en Franci kondig die wenners van die vorige maand se kompetisies aan. Engela gee wenke oor laslappies en wys ook haar handgemaakte vilt poppies.

Die oggend word afgesluit met ‘n Griekse fees. Daar word Moussaka, Griekse slaai, pita-broodjies met humus en Tzatziki, Griekse neutkoekies en Baklava bedien.

Lede en gaste verdaag na ‘n heerlike en leersame byeenkoms.

Griekse feestafels

Lede en gaste geniet ‘n heerlike oggend

Engela gee wenke oor laslappies

Prentjie-mooi in blou

Ronel Grovè (Pilatus instruktrise), knyp daai boude

Leonie Dippenaar (Mind Coach/ Life Coach), reik uit na andere