Klein-Brakrivier, SWD

24/07/2025

Opvoeding & Kultuur

Lydie Terblanche

 

Klein-Brakrivier lede besoek Museum

 

Lede van Klein-Brakrivier het die Groot Brak Museum (‘n ou skoolhuis wat in 1902 gebou is) in Amy Searlestraat besoek. Die museum verteenwoordig die geskiedenis van die dorp na die aankoms van die Searle-familie in die laat 1850’s, die gebruik van waterkrag deur die afgelope eeu en die plaaslike geskiedenis van die Khoisan. Die Inligtingsentrum word in die Museum gehuisves. Die museum is oop op weeksdae tussen 8.30 en 4.00 uur en is beslis die besoek werd (044-620-3338).

Die Searle-gesin het ingevolge ‘n staatsondersteunde skema (1845) van Surrey in Engeland na Suid-Afrika geëmigreer. Hulle het by Mosselbaai geland ná ‘n seereis van 68 dae. Die ouer broer, Richard, het in 1850 in Groot-Brakrivier aangekom om vir die Central Road Board te werk. Richard se broer, Charles, en skoonsuster, Pamela, word erken as stigters van die dorp in 1859. Die Searle-gesin het tolhouers geword (private kontrakteurs het gedurende die 1800’s tolhuise bedryf) en sou inkopies-, verblyf-, skoenmakery- en houtondernemings in die dorp vestig.

Die Tolbrug by Groot-Brakrivier het bestaan uit ‘n tolhuis, ‘n klein losieshuisie genaamd Ferreira’s en ‘n plaashuis aan die Mosselbaai-kant van die rivier. Daar het Charles Searle stewels begin maak as ‘n deeltydse beroep, maar aangesien dit ‘n mark gevind het onder reisigers wat deur sy tol gegaan het, het hy gou gevind dat hy meer werk het as wat hy kon hanteer en is sy eerste voltydse skoenmaker in diens geneem. In 1864 koop hy grond agter die tolhuis en begin ‘n ‘algemene winkel’. In 1865 word hy die posmeester van die dorp, ‘n posisie wat die Searle-gesin vir die volgende 34 jaar sou monopoliseer. Gedurende daardie tyd is die pos- en telegrafiese besigheid van Groot-Brakrivier vanuit die Searle winkel bedryf, waarvan ‘n gedeelte vir hierdie doel opsy gesit is.

Die Searle-gesin het gefloreer en spoedig hul sakebelange uitgebrei deur ‘n losieshuis bekend as die Temperance Hotel, op te rig. Die Searle-familie was stoere onthouers en het verwag dat almal in die dorp die voorbeeld sou volg. Van die begin af was hulle dus gekant teen die verkoop van drank en mettertyd het Groot-Brakrivier bekend geword as “Prohibition Village” (die eerste kroeg in die dorp het eers in 1986 geopen).

In 1886 is ‘n nuwe stewelfabriek opgerig, en die volgende jaar is dit gevolg deur ‘n leerlooiery. In 1893 is ‘n muilkarretjie-diens begin om kruideniersware aan vakansiegangers af te lewer, asook om pos van Oudtshoorn en Mosselbaai na Groot-Brakrivier te vervoer. Die sensus van 1904 het aangedui dat Groot-Brakrivier toe ‘n bevolking van 362 gehad het.

Die 250 jaar oue skoenfabriek van Bolton Footwear, wat oorspronklik deur die Searle-familie begin is, is vandag nog in Groot Brakrivier in bedryf.

[Groot-Brakrivier ontleen sy naam aan die brak smaak van die water uit die twee Brakriviere].

 

Groot-Brak in 1952

saamvoeging van items in museum