Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Saamroeper: Louisa Smit
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 23 Julie 2023
VOËLVLEI LEER BY ‘N MEESTER MET VLYTIGE HANDVLYTVINGERS
Op hul Julie-vergadering is die dames van Voëlvlei VLV behoorlik getrakteer deur Louisa Smit, saamroeper vir Kunste en Handvlyt. Sy het al die afdelings van haar portefeulje verduidelik, en veral op die handvlyt klem gelê. Hierdie vrou is ‘n meester wanneer dit kom by idees en vaardighede ten opsigte van kreatiewe handvlytartikels.
Nadat sy ‘n kursus in fotografie geslaag het, het sy baie wenke deurgegee aan die dames, sowel as die wonderlikste voorbeelde van onder andere trou- en natuurfoto’s uit haar kamera.
Haar kaartjies met ‘lace folding’ en ‘quilling’ is so pragtig dat dit selfs in Amerika draai. Die interessantste koeverte gaan daarmee saam. Sy maak gebruik van enige geskenkpapier of selfs servette gebruik in die proses.
“Teabag folding” is ook iets waarin sy uitmunt. Die mooiste mooi artikels het die dames se asems laat wegslaan.
Louisa het in Thailand geleer om skoenlappers te vou uit ou tydskrifblaaie. Hierdie skoenlappers word ‘lewendig’ in die eindprodukte en hulle loer vir jou!
Sy het ook voorbeelde van “scrapbooking”, geskenksakkies en ‘boksies’ sowel as Hollandse kant of ‘Bobbin Lace’ vertoon. Die fynheid van die kant wat sy leer maak het by ‘n dame in Florida, en later by ‘n Hollandse dame, Rita van Hoeylandt in Centurion, laat ‘n mens sprakeloos van bewondering.
Louisa sê haar eintlike passie is Pergamano. Dit is ook ‘n vorm van kaartjies maak, maar is ‘n baie duur stokperdjie aangesien die gereedskap wat gebruik word, besonder duur is. Sy is ‘n internasionaal gekwalifiseerde tutor in die kuns van Pergamano.
VLV Voëlvlei is voorwaar bevoorreg om ‘n dame van Louisa se kaliber as lid te hê. Om haar pragtige, kreatiewe produkte te kon aanskou, was vir almal teenwoordig ‘n ware fees!
Louisa Smit. Kunste en Handvlyt Saamroeper
Skoenlapper vou in Thailand geleer
Quilling
Teabag Folding
Paper Lace Folding
Pergamano
Kloskant
Leave A Comment