SIRKEL: SUID-OOSKUS

TAK: HUMANSDORP

DATUM: 23 JULIE 2024

PORTEFEULJE: LANDBOU EN TUINBOU

SAAMROEPER: CHARMAINE KOCH

BERIGGEWER: ORA SCHROEDER

 

Renosterbewaarder kuier by Humansdorp

 

Justin Terblanche, ‘n 25 jarige wildbewaarder, het vir  die Humansdorp VLV kom vertel van sy ondervindings met renosters. Die wildsplaas waar hy tans drie wyfies, Britney, Tiffany en Amanda oppas, is in die Oos-Kaap geleë. Die plaas het aanvanklik 19 renosters gehad, wat deur siektes en stropers dood is. Die bul, Bruno, is na ‘n siekte dood. Justin het in sy slaapsak langs hom gelê en sy hartklop gevoel en medikasie toegedien.

Justin is van kleintyd ongelooflik lief vir diere en hy het altyd gevoel hy moet hulle beskerm. Sy skaaphond, Sheena, was gedurig aan sy sy as hy in die veld gespeel het. Sy vriende het vir hom afvlerk voëtjies en ander diertjies gebring om gesond te kry.

Hy het aanvankik slegs nagdiens gedoen, wat baie koud en alleen was. Die diere is baie skrikkerig vir geluide, selfs voëls se geluide laat hulle skrik. In die donkerte kan net die diere se silhoeëtte uitgemaak word. Selfs ‘n flitslig sal hulle afskrik.

Nadat hy meer dagskofte gedoen het, het hy meer nou met die renosters begin werk en so hul persoonlikhede leer ken. Hy het vir hulle aanvullende voeding gevoer. Hy het agtergekom dat hulle nie saam gevoer kan word nie en hy het die voer vir hulle op verskillende hopies gegooi. Tiffany en Britney is altyd by mekaar en Amanda eenkant. Justin se werk is om sy “dames” veilig te hou. Hy het met sy rustige geaardheid geleidelik na 1 jaar en 6 maande daarin geslaag om hul vertroue te wen.

As hulle Justin hoor fluit, kom hulle nader en hulle ruik aan hom en laat hom toe om aan hulle te vat. Hulle speel met hom deur saam met hom te hardloop en kan selfs galop soos ‘n perd. Die vriendskap tussen die renosters en Justin het geleidelik stap vir stap gegroei totdat hulle hom toegelaat het om aan hulle te vat. Hy kan hulle lyftaal lees, soos as ‘n renoster se stertjie krul, kan dit ‘n teken van  nuuskierigheid of selfs aggressie wees.

Justin glo dat sy passie vir diere ‘n Godgegewe is en dat dit sy plig is om na diere om te sien.

Suzanne Janeke het met Beth Cooper Powel ‘n boek oor Justin en die renosters, getiteld Guardian of the Crash geskryf.

Die renosterbevolking het die afgelope veertig jaar met 90% afgeneem en as dit nie vir pogings tot bewaring was nie, was hierdie spesie seker nou al uitgeroei. Maar, is dit genoeg? Die onwettige handel in renosterhorings het sterk oor die laaste paar jaar toegeneem en aanvraag uit veral Sjina en Vietnam neem steeds toe.Volgens hierdie Asiatiese lande beskik renosterhorings oor sterk medisinale waarde. Uitgebreide wetenskaplike navorsing het bewys dat renosterhorings oor GEEN medisinale kwaliteite beskik nie. Die horings bestaan uit keratien, dieselfde materiaal as menslike hare en naels, maar word in sommige lande fyngemaal en in tradisionele medisyne gebruik. Daar is dus ‘n groot aanvraag na renosterhoring  en per gewig kan dit dieselfde prys as goud op die swartmark haal. Suid-Afrika het tans ‘n baie groot probleem met renosterstropery en honderde renosters word jaarliks onwettig vir hul horings gejag. ‘n Renoster se horing groei weer as dit natuurlik afgebreek het. Daar is egter geen hoop as die horing uitgesny word nie.

 

Op die foto is Justin se ma, Tanya Terblanche, Justin Terblanche, Charmaine Koch en Annalene van Niekerk