Sirkel: SWD

Tak: VLV Hartenbos

Studierigting: Leefstyl (naaldwerk)

Sameroeper: Sylvia Grobler

Beriggewer: Wilma van Staden

Datum: 23 Julie 2024

DIE LAPPIESKONINGIN 

As daar nou ‘n vrou is wat kan toor met lappies, is dit Ina Smit van Bernina in Mosselbaai. Dit het sy weereens bewys by die VLV Hartenbos se maandelikse byeenkoms op 23 Julie 2024.

Ina Smit besig met haar demonstrasie en praatjie.

Sy vertel dat sy gereeld ervaar dat dames nie meer met dieselfde ou masjienwerk wil voortgaan nie en soek na iets nuuts en anders. Andere word bang en voel hulle kan nie meer met die masjien werk nie. Met haar praatjie en demonstrasie het sy hierdie aspekte vir die lede en besoekers weer mooi in perspektief geplaas.

Verskillende projekte is demonstreer. Projekte kan gedoen word sonder dat daar te veel meetwerk by betrokke is en ook nie “stik, stop, draai, stik” nie. Dis meestal “vry” stikwerk. Hoe lekker! Dit behels verder dat lappies op appliekpapier of “Misty Fuse” gestryk / geplak word volgens jou uitgewerkte “plan”. Stikwerk hoef nie reguit te wees nie en hoef ook nie net reguit steke te wees nie, siersteke maak dit interessant.

Eenvoudigste van hierdie plannne is om ‘n mooi stuk lap vas te stryk, en dan net horisontaal en/of vertikaal te stik. Die voltooide item kan vir ‘n loper gebruik word.

Deurgestikte lap vir n loper.

Met ‘n ander plan sny jy ‘n sirkel +- 20 -30 cm in deursnee, Stryk / plak saam met “Batting”. Teken ‘n kleiner sirkel in die middel. Deel die groot sirkel in agtstes en maak kepe tot by klein sirkel. Vou dan die kepe oor mekaar en stik vas. Dit vorm ‘n stewige bakkie. Gebruik ‘n mengsel van helfte gom en helfte water as jy die bakkie wil versterk. Hoe groter die sirkel, hoe groter die bakkie, maar dis moeiliker om te stik.

Proses vir die maak van die bakkies, kortliks uitgebeeld. Sirkel metgetekende sirkel in die middel, kepies gesny wat sirkel in agstes sny, bakkie nadat dit vasgestik is. 

Sirkels wat bakke geword het.

Nog ‘n plan is waar jy begin met vierkantige blokkies, daarop kom ‘n kleiner blokkie en dan nog ‘n kleiner een. Om dit verder interessant te maak, kan jy hulle halveer en herrangskik sodat die blokkies nie almal dieselfde is nie. Na die herrangskikking stryk jy dit vas en stik dan vrylik oor die hele stuk lap, een kant na die ander. Dit kan dien vir ‘n vinnige kwilt wat vir allerlei artikels gebruik kan word, selfs ‘n handsak.

Gemengde blokkie vir vinnige kwilt

Vinnige kwilt handsak

‘n Baie gewilde tendens is om hierdie soort vinnige kwilt te maak met tienerjariges se ou skool klere waarop klasmaats geskryf het. Dit kan vir verskeie artikels gebruik word. Sakke is veral gewild.

Sy het verder demonstreer hoe ritsluiters op ‘n maklike wyse in hierdie sakkies ingesit kan word. Jy kan ook soos,’n “Pro” lyk as jy haar advies in hierdie verband volg.

Voorbeeld van die netjies afgeronde ritsluiter.

Dit was ‘n ander wonderlike ervaring om te aanskou hoe die lede en besoekers aan haar lippe gehang het en geinspireer is. Moenie wag nie, kry sommer jou inspirasie uit hierdie artikel.

As deel van ons “So Maak mens” sessie met elke byeenkoms het Wilma van Staden drie metodes demonstreer hoe gehekelde blokkies aanmekaar gehekel word voordat die blokkie voltooi is.

Wilma demonstreer die vaswerk van hekel blokkies

Martie Visagie het oudergewoonte vorendag gekom met ‘n baie interessante storie. Sy het vertel van die oorsprong en die gepaardgaande geskiedenis van die Franse “parfuum” wat ons as “Eau de Cologne” of “4711” geken het. Sy het van die botteljies en die verpakkingboksies vertoon. Lede en besoekers het hierdie rit terug na hulle kinderjare en hulle oumas met groot nostalgie beleef.

Martie Visagie entoesiasties besig met haar “Eau de Cologne” storie.

Span verantwoordelik vir die byeenkoms. Vlnr Tokkie van Wyk, Sylvia Grobler, sameroeper vir Leefstyl (naaldwerk), Ina Smit van Bernina, Mosselbaai en ons Lappie Koningin, Rolien Smit, Voorsitter, VLV Hartenbos, Ida Van Tonder.