Sirkel: Namakwaland
Tak: Vredendal
Portefeulje: Leefstyl en Kunste & Handvlyt
Saamroeper: Joretha de Waal
Beriggewer: Riana Wilhelm
Datum: 20 Julie 2024
Vredendal word geïnspireer by Sirkeldag in Nieuwoudtville
Douvoordag op ‘n yskoue Saterdagoggend pak nege brawe vroue van VLV Vredendal – Sirkel Namakwaland die langpad aan na Nieuwoudtville – gejas, gereed en leergierig. Ons word verwelkom met koffie en tee en warm sjokolade, iets na elk se smaak. Dis ‘n vrolike vyf-en-dertig vroue van Sirkel Namakwaland wat heerlik lag, gesels en mekaar soos lank verlore familie groet. Emjee Louw van Hantam, Rita Eitner van Vredendal, Elbie O’Kennedy van Loeriesfontein en Joretha de Waal van Lutzville deel met ons wenke vir huisvlyt. Daar word geproe aan heerlike lemoenkoek, bagels, noedelslaai en flan. Die dames van Vredendal tak sorg vir heerlike snoeperye saam met die oggendtee. Kunste en handvlyt is volgende aan die beurt en Mandie Kotze en Marlena Maas van Niewoudtville en Nonnie van Wyk van Vredendal deel baie nuttige wenke oor olieverf, skryf van ‘n epigram, knopekuns, neem van foto’s, scrapbooking en die maak van seep, en maak seker dat almal presies weet wat van hulle verwag word. Leefstyl word hanteer deur Sussie Visser en Danelia Louw van Loeriesfontein. Hulle moedig die lede aan om hul hekel- en breipenne uit te haal en soveel moontlik lede te kry om deel te neem. Ook die naaimasjiene moet ge-olie word vir ‘n kwilt, ‘n oornagsak en ‘n kamisool met kant. Ons sien almal uit om te sien wat die dames met hul vlytige hande vir ons gaan skep. Na dese is ons almal gereed om aan die werk te spring met die kompetisie artikels vir volgende jaar. Ons word verras met heerlike sop en broodjies en selfs nagereg om die dag af te sluit. Dit was voorwaar ‘n heerlike uitstappie na ‘n pragtige dorp en ons pak die langpad weer berg-af aan, ons harte vol en gedagtes hard aan die werk met beplanning. Dankie Nieuwoudtville, jy was goed vir ons.
Die dames van Vredendal-tak wat die dag bygewoon het.
Van links na regs: Joretha de Waal (Lutzville), Sussie Visser (Loeriesfontein), Danelia Louw (Loeriesfontein), Mandie Kotze (Nieuwoudtville) en Elmarie Fouché (Vredendal).
Leave A Comment