Sirkel: Weskus

Tak: St Helenabaai

Beriggewer: Wilna Marx

Fotograaf: Annalie Nieman

Datum: 20 Julie 2024

In die gees van Mandeladag

Mandeladag 2024

Die afgelope weke se reënweer en koue het ons opnuut laat besef hoe geseënd ons is om te kan skuil teen die aanslae en warm te wees binne ons woon- en werksplekke.

Opnuut dink ons weer aan die padbouers, wat nou al vir maande aan die opgradering van ons deurpad bou. Ons dink veral aan die dames wat die ry-en-stop deurgange hanteer.

Klein sinkplaatskuilings is daar, maar as die motors moet ry, moet hulle uit, borde van ”STOP” na “GO” verander, met rooi vlae stap en die motors waarsku en die groot geel versperrings uit die pad skuif. Dan groet hulle boonop met ‘n glimlag en ‘n wuif die motors wat verbyry.

Hierdie woorde van Madiba het ons hier by die St Helenabaai-tak laat uitreik na hierdie vrouens.

Madiba se woorde

By elke sinkplaatskuiling is daar gestop en ‘n heerlike boksie eetgoed uitgedeel op hierdie bewolkte koue oggend.

Die dames wat die reën en koue daagliks trotseer om ons veilig te hou.

Vir elkeen het woorde van dankie, diep uit ons harte gekom. Ons leer ken hulle met elke verbyry, en weet ons gaan die glimlagte en elke vriendelike wuif mis die dag as die padbouery klaar is.

Maggie Enever, Voorsitter van ons tak oorhandig ‘n boksie aan een van die dames.