Sirkel: SWD
Tak: Sedgefield
Portefeulje: Opvoeding
Saamroeper: Anna Herbst
Beriggewer: Carin Van Niekerk
Datum van vergadering: 17 Julie 2024
Sedgefield openbare biblioteek maak ‘n verskil in die gemeenskap en spoor Sedgefield VLV ook aan tot betrokkenheid
Die Openbare Sake vergadering van 17 Julie 2024 het die dames na die Sedgefield Biblioteek geneem. Die dames is versoek om een boek elk aan die biblioteek te skenk, maar uiteindelik het elke dame met baie meer as een boek opgedaag.
Die bibliotekaris, Danfred, het die dames in die biblioteek self agtergrond en inligting van die biblioteek se werksaamhede gegee. Die biblioteek is goed toegerus met ‘n verskeidenheid boeke. Hy het dit egter genoem daar ‘n groot behoefte en tekort aan intreevlak Afrikaanse boeke is. Die dames het daar en dan onderneem om veral hierdie boeke bymekaar te maak en te skenk. Dit gebeur, soos by enige biblioteek , dat boeke verlore raak en nie teruggebring word nie. Daarom verkoop hulle gereeld boeke wat in onbruik raak of waarvan daar ‘n surplus is, vir so min as R2,00. Met hierdie geld koop hulle dan voortdurend nuwe boeke aan.
Die biblioteek is benewens al die boeke, ook goed toegerus met rekenaars en beskik ook internettoegang. Die eerste halfuur vir die internetgebruik is gratis. Enige persoon is welkom om opleiding te kry in die basiese gebruik van ‘n rekenaar. Hulle staan mense by in die skryf van CV’s of besigheidsplanne. Wanneer jy lid word van die biblioteek, kan jy ses boeke per keer uitneem. As ‘n boek nie op hulle rakke is nie, leen hulle dit uit ander biblioteke. Dit is ‘n gratis diens wat hulle vir alle lede aanbied. Hulle het selfs al boeke uit Kaapstad se biblioteek geleen.
Die biblioteek is baie betrokke by die plaaslike skole. Hulle bied jaarliks Spelathon- en kortverhaalkompetisies vir leerders aan. Die wenkortverhale word op die biblioteek se koste afgerol, gebind en op die rakke geplaas. Dit is vir hierdie wenners ‘n groot pluimpie dat hulle verhale gepubliseer word en beskikbaar is vir ander om te lees. Die biblioteek reik na kleuterskole, laerskole en ouetehuise uit. Hulle doel met die uitreiking na die laerskole is om leerders lief te maak vir lees. Hulle het ‘n spesiale program op Woensdae in die gemeenskapsaal met die leerders in Smutsville waar hulle ‘n skaakklub het, en ook leerders uit boeke leer om te brei of te hekel, of enige ander naaaldwerk te doen. Die biblioteek het ‘n groot behoefte aan vrywilligers wat betrokke kan raak om leerders te help lees of kundighede aan te leer. Daar is ook elke vakansie uitreike na Smutsville.
Leave A Comment