Tak: Aberdeen
Portefeulje: Leefstyl (en Opvoeding & Kultuur)
Beriggewer: Lea van der Vyver
Datum: 17 Julie 2024
Aberdeen Leefstyl Uitstappie Propvol Verrassings en Inspirasie!
Vroegoggend kom Aberdeen VLV se vroue bymekaar om vir die Leefstyl vergadering drie van Murraysburg se gastehuise te besoek. Op pad word daar vrolik en opgewonde in die bussie gelag en gesels.
Op pad in die propvol bussie.
Voor vlnr: Suzanne Lategan, Tanya Gouws, Carina Esterhuizen, Leticia van der Ahee
Agter vlnr: Alet Gouws, Elise Steynberg, Maritza Schoeman
Die eerste stop is “Oppiehoekie Gastehuis” met hul koffiewinkel “Die Workshop”. Eienaar Lindie Venter verwelkom ons met heerlike warm koffie – ‘n heerlike lafenis na die twee ure lange rit! Haar storie is ‘n inspirasie – hoe sy en haar man die besige beroepslewe in Pretoria vaarwel toegeroep het om ‘n rustige lewe in die Karoo te lei. Hoe sy ‘n nuwe kreatiewe kant van haarself ontdek het en hoe die Karoo jou hart skoon spoel en jou mens maak. Nou is sy so besig en die besigheid groei met rasse skrede. Behalwe die gastehuis en koffiewinkel, bemark sy ook ‘n reeks tuisgemaakte produkte, “Karoo Deli’sh” en kan nie voor bly met bestellings nie.
Groepfoto voor “Die Workshop @ Oppiehoekie”.
Voor vlnr: Tanya Gouws, Carina Esterhuizen, Elise Steynberg, Alet Gouws, Leticia van der Ahee, Maritza Schoeman, Lize de Jager, Suzanne Lategan, Heidi Lombard
Agter vlnr: Karen van Rensburg, Retha Lategan, Petro Marx, Thea Paxton, Lea van der Vyver, Joyle Smit
Aberdeen VLV word verwelkom by “Die Workshop @ Oppiehoekie”.
Een van die interessante hoekies in “Die Workshop”.
Snoesige hoekie in slaapkamer van “Oppiehoekie Gastehuis”.
Nadat die huis met sy unieke oudhede dekor om elke hoek en draai besigtig is, stap die dames straat af na die volgende bestemming.
Michelle Swiegers van “Colonial Karoo Boutique Guesthouse” wag ons in met ‘n knetterende kaggelvuur is in ruim leefvertrek met pragtige skilderye en foto’s teen die mure. Sy en haar man het ook hulle besige lewens in Paarl verruil vir die rustiger Karoo en het teruggekeer na sy geboortedorp. Aangesien daar nie eetplekke op Murraysburg is nie, verskaf sy ook etes vir haar gaste.
“Colonial Karoo Boutique Guesthouse” se ruim leefvertrek met pragtige skilderye en foto’s. Thea Paxton (links) en Joyle Smit geniet die vuurtjie.
“Colonial Karoo Boutique Guesthouse” se treffende voorportaal met Elise Steynberg (links) en Karen van Rensburg.
Die dames sit aan vir ‘n eksotiese middagete in die gesellige eetkamer met sy “Jewel” stofie wat knetter. Lea van der Vyver bedank elkeen wat die dag meemaak en verwelkom ook die gaste wat saamgekom het. Lize de Jager, Leefstyl Saamroeper wat die dag organiseer het, doen die tafelgebed. Daar word behoorlik gesmul aan ‘n Marrokaanse “tagine” lamsgereg met appelkose en dadel “cous-cous”. Die ete word afgesluit met ‘n heerlike gebakte nagereg met toffiesous en vanilla room.
Keurig gedekte tafel met voortreflike middagete in die gesellige eetkamer van “Colonial Karoo Boutique Guesthouse”.
Die laaste stop vir die dag is “Prickly Pear Guesthouse” van Sophia van Heerden. Sy het reeds ‘n suksesvolle besigheid op hulle plaas buite die dorp, nl. “Sophia’s Roses”, maar sy glo dat jy die verandering moet wees wat jy graag wil sien en moet mooi maak waar jy gaan. Vir dié rede het sy die vervalle geboue in die dorp gekoop en is besig om dit in 6 wooneenhede te omskep. Elke huisie het sy eie tema en haar styl is speels – kleur en luuksheid, gemeng met Karoo elemente. Sy moedig vroue aan om te doen waarvoor hulle lief is en om uit te hou en aan te hou ten spyte van uitdagings.
Unieke dekor in elke eenheid van “Prickly Pear Guesthouse” – hier is die pienk kombuis
Elke slaapkamer van “Prickly Pear Guesthouse” word opgehelder met treffende muurpapier
Die dag lewer beslis meer op as wat verwag is – behalwe om te sien hoe ou geboue in netjiese gastehuise met pragtige interieur en leefruimtes omskep is, word die dames verras en inspireer deur elke eienaar se storie.
Die goue draad wat deur elkeen se storie loop, is dat die Here hulle pad tot in die Karoo gelei het. Hier het hulle die geleentheid gesien om dit wat vervalle was op te bou, mooi te maak en ‘n diens te lewer waar daar ‘n behoefte was. Hulle het ‘n nuwe kreatiewe kant van hulself ontdek en in die proses maak hulle ‘n groot impak om hulle dorp mooi te maak en op te hef.
Leave A Comment