SIRKEL: Noord-Karoo
TAK: Murraysburg
PORTEFEULJE: Al die studierigtings
DATUM: 12 Julie 2024
BERIGGEWER: Theresa Troskie
Murraysburg bemagtig matrieks
Murraysburg het op Vrydag, 12 Julie, vir die agtiende jaar hul Matriekbemagtigingsgeleentheid vir die matrieks van Murraysburg Hoërskool aangebied. Die 53 matrieks was ontvanklik en uit hul interaksie met die sprekers kon ’n mens sien dat hulle die onderwerpe geniet.
Die rollespel van ’n voorgestelde onderhoud vir ’n geadverteerde pos, het vir groot pret gesorg. Vyf van die leerders was die paneel wat vrae gevra het, terwyl die twee aansoekers se antwoorde en optrede gewissel het tussen uitstekend en skreeusnaaks! Die leerders moes hierna stem oor wie aangestel moes word. Uit die evaluering agterna het leerders besef hoe belangrik optrede, kleredrag en ingesteldheid is as jy vir ’n pos aansoek doen.
Onderwerpe wat behandel is:
- Wenke en voorbeelde van ’n volledige aansoek met dekbrief/begeleidende brief, CV, ens.
- Wenke vir die opstel van ’n CV;
- ’n Lys van opleidingsmoontlikhede in die omgewing met beursgeleenthede en kontakbesonderhede;
- Optrede by ’n onderhoud;
- Sosiale media en die werkplek;
- Konflikhantering;
- Hulpmiddels op jou lewensreis:
Elke leerder het ’n heerlike wegneemete gekry en die versekering dat hulle by die VLV kan aanklop vir enige hulp wat hulle vir hul toekomsplanne in 2025 benodig.
Leave A Comment