Sirkel: SWD

Tak: Oudtshoorn

Portefeulje: Opvoeding en kultuur

Beriggewer: Isabella Jansen vN

Fotograaf: Isabella Jansen vN

Datum: 3 Julie 2024

 

Liefde vir die natuur

 

In die Karoo-kou is daar ‘n uitstappie na die Cango Wildlife Ranch onderneem.

 

Die groep by die ingang van Cango Wildlife Ranch

 

Navin, een van die kuratore, was ons gids en hy het al die diere aan ons bekend gestel met baie interessante agtergrondkennis.

Die toer het in die trope-afdeling begin, waar die ons met ‘n grommende bewegende skelet verwelkom is. Die interessante in hierdie afdeling was om die groot vlermuise te sien wat van die dak hang en met hul vlerke om hul gevou vrede het met die toeriste wat na hulle kom kyk. Nadat ons oor die mite (?) van vlermuise in hare vlieg gewonder het, is ons na Speckles toe, die rob wat rondswem en net lank genoeg op ‘n rots poseer sodat foto’s geneem kan word voordat die waterpoel roep.

 

Speckles net voordat hy weer onder die water verdwyn

 

Malcolm, die ooievaar was volgende op die lys waar hy besig was om blare en takkies bymekaar te maak en op ‘n hopie te gooi. Die mooi pienk flaminke woon so neffens Hilde en Herbert, die pigmie-seekoeie wat luilekker in die flou sonnetjie lê en hul agterkante na ons wys.

 

Die volgende op ons roete was die krokodille, waar ‘n teken ons so ewe waarsku om nie saam met hulle te swem nie. Indien dit op jou kluitklaplys is om saam met ‘n krokodil (in ‘n hok) te swem, moet jy tot die somer wag, waar die ou grote solank onaktief vir jou in sy eie poel wag. Die krokodilvel van #13 hang teen die muur sodat jy jou van hul werklike grootte kan vergewis.

 

Krokodille luilekker in die son met een oog op die toeriste

Natuurlik moes die besoek afgesluit word deur ‘n besoek aan die luiperds, jagluiperds, leeus en wit Bengaalse tier te bring. Ons is vooraf gewaarsku om hulle nie te roep nie, nodeloos om te sê dat nie een van ons braaf genoeg was om te “hier kietsie” nie. Ons het besluit om die slange ‘n systap te gee en eerder nektar vir die voëls in die een hok nektar te voer.

 

Petro gee nektar aan die voëls in die “Amasone”

Na die heerlike besoek het ons om die noenontbyttafel verder geluier (en gekuier) voordat dit tyd was om huiswaarts te keer.

 

Om ‘n toeris in ons eie dorp te wees, was beslis die moeite werd.