Sirkel: NOK

Tak: Lady Grey

Portefeulje: Projek 2024

Saamroeper:

Beriggewer:

Datum:

 

PROJEK: KWEEK LIEFDE VIR DIE NATUUR – VLV LADY GREY

 

Lady Grey se dorpsdam is pas met behulp van “Lottoland help ‘n Dorp” opgeknap en tydens die proses moes heelwat bome en bosse uitgekap word. Lady Grey is ‘n tuiste van ‘n groot verskeidenheid in- en uitheemse bome.

Ons VLV-tak het die plaaslike skool se ATKV-jeugtak se lede op ‘n middaguitstappie na die dam geneem, sodat hulle daar hierdie bome kan identifiseer en meer oor hulle kan leer.

Bekende inheemse bome in die Lady Grey area is die Witstinkhout,

Wilde Olyf en Ouhout.

Die Witstinkhout se bas is glad en grys-wit wanneer dit jonk is, maar word grof en is donker as dit ouer word. Dit is bekend vir sy vele medisinale gebruike soos vir koors en seer oë.

Die Wilde Olyf is meer algemeen in Lady Grey area. Die blare is ‘n grys-groen tot donker-groen kleur. Die bas skilfer dikwels af in repe en wanneer dit blom vorm dit klein wit tot groenerige blommetjies met ‘n effense reuk. Die hout word dikwels gebruik vir die maak van heinings.

Ouhout is ‘n boom, maar word dikwels verwys na as ‘n bos. Sy blare is ‘n digte growwe blaar met ‘n donker groen kleur. Die hout word gebruik vir

vuurmaak daar dit maklik brand.

Die mees algemeen bekende uitheemse boomspesies in Lady Grey is die Denneboom, Swartwattel en Bloekomboom (Eucalyptus).

Dennebome is maklik erkenbaar aan hul naaldvormige blare en keëls. In SA word sekere soorte in plantasies aangeplant vir die maak van papier en timmerhout. Dié bome is ‘n bedreiging vir die area as gevolg van hul groot water opname en vinnige groei.

Die Swartwattel het ‘n grys stam met donker groen blare en dra trosse geel blommetjies gedurende die laat winter en vroeë lente. Dit was oorspronklik ingebring om sy hout te gebruik vir die maak van meubels. Die boom verminder weiplek vir mak sowel as wilde diere en is ook ‘n bedreiging

vir ons dorp se watervoorraad. Bloekombome is een van die hoogste bome in die wêreld wat veral in Australië voorkom. Dis ‘n snel groeiende immergroen boom met ‘n grys-rooi bas en dra blinksekelvormige blare.

Bloekomolie uit die blare word vir mediese doeleindes aangewend. Hulle is ‘n bedreiging vir die inheemse plante van Lady Grey aangesien hulle die grond onder hulle onvrugbaar maak.