SIRKEL: SUID-OOSKUS

TAK: HUMANSDORP

DATUM: 25 JUNIE 2024

PORTEFEULJE: KUNSTE EN HANDVLYT

SAAMROEPER: CHARLENE MARAIS

BERIGGEWER: ORA SCHROEDER

Mondskilder beïndruk Humansdorp VLV

Hentie Smit, ‘n kwadrupleeg van Jeffreysbaai, het vir ons kom wys hoe hy mondskilder met olieverf. Hy het vertel hoe hy in die hospitaal in Worcester wakker geword het en verneem het dat hy onwetend in ‘n verskriklike ongeluk beland het.

Hy was 28 jaar gelede saam met ‘n vriend op pad na ‘n partytjie. Daar aangekom, het hy besluit om liewer in die motor te bly om te rus. ‘n Persoon het in die kar geklim sonder om te weet dat hy agter in die motor was. Tussen Wolseley en Tulbagh het die motoris in ‘n u-draai beheer verloor oor die voertuig en teen ‘n afgrond afgetuimel. Hentie het in die kattebak beland en is aan sy voete daar uitgetrek. Hy het sy nek gebreek. Sy senuwees was tussen sy c4 en c5 vasgeknyp. Sy ouers het hom vir 25 jaar versorg.

Hentie skilder nou al vir 28 jaar sonder formele opleiding. Hy het aanvanklik baie swaar gekry. Die padfonds het na agt jaar uitbetaal en hy het ‘n elektriese rolstoel gekry. Hy ry graag met sy rolstoel deur Jeffreysbaai se strate – ‘n bekende gesig vir die inwoners.

Hy doen graag waterverf- en akrielsketse, maar hou nie baie van olieverf nie, aangesien dit baie lank neem om die verskillende lae droog te kry. Die skildery wat hy gedemonstreer het, is onvoltooid. Dit moet eers droog word voordat hy verder kan skilder.

Hentie is tans in die sorg van André en Rika Oosthuizen van Jeffreysbaai.

Hentie Smit

Rika Oosthuizen en Willy, Hentie se helper.