Sirkel: Middelland

Tak: Alexandria

Portefeulje: Leefstyl

Sameroeper: Anlouise O’Connell

Beriggewer: Erentia Hendriksz

Datum: 20 Junie 2024

 

Bokhaarstories!

 

Wat ‘n ongelooflike ervaring was dit nie om House of Fibre in Port Elizabeth (Gqeberha) te besoek nie, die vroue van VLV Alexandria kyk beslis nou met nuwe oë en waardering na ‘n bolletjie wol. By House of Fibre was die dames alte bly dat hulle, hul stapskoene aangetrek het, die pakhuise is enorme, maar elke tree was die moeite werd. House of Fibre is die “voorbok” as dit kom by Makelaarsdienste, die nuutste Tegnologie, vooraanstaande Bemarking en Dienslewering in die Sybokhaarbedryf. Daarby is hulle ook gefokus op verantwoordelike, volhoubare wol- en sybokhaar produksie. Baie dankie aan Pierre van der Vyver en Abigail Bezuidenhout van House of Fibre wat die toer begelei het.

 

 

Samil het ons asems weggeslaan! Samil is ‘n dinamiese organisasie wat al vir meer as 30 jaar ondervinding in die Suid-Afrikaanse Sybokhaar en Tekstiel industrie het. Samil spog met ‘n alles in een benadering, vanaf boerdery, prosessering, verhandeling, verwerking en kleur. Internasionale modehuise soos Chanel en Louis Vuitton se bestellings is nie ‘n ongewone gesig daar nie. Ronel en Keira van Samil het ons deur die proses geneem vanaf volhoubare boerdery tot die kies van volgende seisoen se modekleure. Die dames in die verwerkingsaanleg het hul baie goed van hul taak gekwyt en ek dink elke VLV-lid wou bars van trots om te weet dat daar so baie vroue in die organisasie is wat aan stuur staan van elke betrokke afdeling.

 

Ons het die dag afgesluit by die hoofkantoor van Mohair SA in Gqeberha. SAMGA te same met die Mohair Empowerment Trust (MET) hou gereelde opleidingsdae en werkswinkels vir boere en hul werkers oor hoe om hul diere te hanteer en te versorg. Sanmarie Vermaak het ook vertel van ‘n wonderlike inisiatief wat hulle tans loots om die werkers se vroue te bemagtig. Brei en hekelwerkswinkels word in die streek aangebied en sodoende kan die vroue hul handgemaakte artikels verkoop vir ‘n inkomste. Mohair SA het die VLV-lede met ‘n heerlike middagete en geskenkie bederf. Sonder Anlouise O’Connell, Sanmarie Vermaak van SAMGA en Lauren Moore van Mohair SA sou hierdie dag nie moontlik gewees het nie. Geen moeite is ontsien nie. Weereens baie dankie!