Sirkel: Paarl

Tak: Suider Paarl

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Saamroeper: Karen Visser

Beriggewer: Gonny du Plessis

Datum: 19 Junie 2024

Suider Paarl kry ‘n Opvoedingsles in Gesond leef

Die Suider Paarl-tak het weer ‘n pragtige oggend beleef met mooi gedekte tafels in winterkleure van groen en geel met sitrustakke en vrugte op.

Die gaskunstenaar, mnr Loffie Elof, het die oggend afgeskop met drie pragtige liedere wat hy self geskryf en begelei het op sy kitaar. ‘n lied oor die Namib, ‘n lied oor ‘n vriendin wat hy “Warrelkind” noem en een oor sy weermagdae, “The maroon baret”.

Na ‘n aantal sake afgehandel was het die lede die nuwe VLVK-lied hartlik saamgesing onder leiding van ‘n lid, mev. Marietjie Bonnet.

Die gasspreker was me Lizandri Swanich, ‘n dieëtkundige, van die firma “Vital” wat gesondheidsprodukte vervaardig en versprei.

Sy het die lede ingelig oor die firma se verskillende aanvullende produkte en wat elke persoon moet inkry om so gesond as moontlik te kan leef. Ook om met die aankoop op te let waarna gekyk moet word vir die gebruik van die produk.

‘n Gesonde liggaam met genoeg energie, goeie liggaamsgewig, goeie spysvertering, goeie nagrus en sonder spanning en medikasie, is enige mens se droom.

Daarom moet elke persoon probeer om vyf soorte vrugte of groente per dag in te neem, ten minste twee maal per week vis te eet en ook genoeg sade en peulgewasse in te kry. Die liggaam benodig ook koolhidrate, lae vet proteïne en genoeg kalsium. Sy het verduidelik dat waar daar tekorte is, hoe dit aangevul kan word en in watter produkte die verskillende vitamines verkry word.

Mev Marie Hammann, ‘n lid, het die item vir die oggend gelewer deur die gedig van DJ Opperman, ”Sproeireën”, voor te dra. Om iets oor die Afrikaanse taal te doen was daar op elke tafel ‘n paar idiome, almal oor vrugte of groente en moes die lede dit voorlees en verduidelik.

Tot selfs die eetgoed saam met die tee was met die oog op gesond leef, aangebied.

vlnr Mev Karen Visser, Mev Marie Hammann en die gasvroue, mev Annemarie Jansen van Rensburg en Mev Joanie Kingwill,

Gasspreker, me Lizandri Swanich,

Mev Karen Visser bedank me Lizandri Swanich

Mnr Loffie Elof, die sanger en

Mooi tafels.