Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Ada Gericke

Datum: 18 Junie 2023

VOËLVLEI INGELIG OOR VEILIGHEID

Mnr Sam Coetzee, bestuurder van Aloe Ferox op Albertinia, en hoof van AFSS in Albertinia, het die dames van Voëlvlei VLV by hul Junie-vergadering toegespreek oor veiligheid.

Met die toenemende misdaad in die land, is mense in die Suid- en Wes-Kaap nou ook die teiken van misdadigers, maar omdat dit minder is as in die noordelike deel van die land, is almal nie paraat genoeg nie. Mnr Coetzee het dit beklemtoon dat dit elke individu se verantwoordelikheid is om seker te maak dat sy omgewing en woonplek veilig bly.

Die gebruik van dwelms soos tik, armoede en werkloosheid dra by tot diefstal. 50% van misdadigers wat tik gebruik, is nie noodwendig verslaafdes nie. Al hoe jonger kinders gebruik dit en hulle word gebruik om in te breek, terwyl dit moeilik is om hulle te vang.

Mense wat doelloos ronddwaal in die omgewing, kyk na die skedules van mense om die patroon van hul bewegings agter te kom. Vra vrae om uit te vind wat hulle doen.

Hy het ‘n paar voorstelle gemaak oor wat elkeen van ons kan doen. Ons moet bewus wees van ons omgewing en goed luister. Leer jou bure en die mense in die omgewing se skedules ken. Stig ‘n buurtwag-Whatsapp-groep wat uitsluitlik gebruik moet word vir potensiële misdaad en vaardig dan iemand in die groep af om op te volg.

Om jou eiendom veilig te hou, moenie steelbare artikels buite los nie. ‘n Heining om jou erf sal dit moeiliker maak vir misdadigers om in te kom. Jy kan ook die volgende installeer: alarms buite die huis, kameras en beligting. Gruisklippies buite om die huis sal as waarskuwing dien sodat jy kan hoor wanneer iemand daar loop. Natuurlik sal ‘n hond ook ‘n afskrikmiddel wees. Klein hondjies binne die huis is baie goeie waghondjies.

Verder is dit belangrik om jou huis en motors toe te sluit en bάie belangrik om nie al jou bewegings op sosiale media te verkondig nie.

Mnr Coetzee het afgesluit met die beroep dat almal in die land moet bly bid vir veiligheid.

 

Sam Coetzee van AFSS in Albertinia wat ons toegespreek het oor veiligheid en Brenda Human wat die bedankings hanteer het.